padteken

Credit: Erla Diedericks

Inwoners van Kerkstraat in Durbanville – dieselfde straat waarin die Durbanville-polisiekantoor geleë is – vrees vir hul veiligheid ná verskeie voorvalle in die straat.

In die jongste voorval op Donderdag 6 Januarie is ’n inwoner en trusteelid van The Oaks on Church-woonkompleks – slegs sowat 300 m van die polisiekantoor – verskeie kere met ’n mes in die straat voor die kompleks gesteek.

Die man, wat uit vrees vir sy aanvallers anoniem wil bly, is eers sowat ’n week later verlede Donderdag ná drie operasies uit die hospitaal ontslaan.

Hy het die oggend omstreeks 01:00 na sy woonstel gestap. Toe hy die hek met sy afstandbeheerder oopmaak, het vier jong mans hom gegryp. Een het hom agt keer met die mes gesteek – in sy maag, bo-arms en gewrigte, asook in sy been.

Erg gebloei

’n Man in die kompleks het die voorval gehoor en nog ’n inwoner, ’n vrou, gaan wakker maak en hulle het hom te hulp gesnel.

“Hy het baie erg gebloei en sou hom waarskynlik doodgebloei het as hy nie hulp gekry het nie,” het die vrou, wat ook anoniem wil bly, gesê. Hulle het sy wonde verbind en ’n ambulans ontbied.

“Die paramedici het gesê hy is net betyds gekry,” het sy gesê.

Die rowers was vermoedelik op soek na sy selfoon. Die selfoon word sedertdien vermis, maar dis onduidelik hoe dit weggeraak het en of hulle dit wel geroof het, het sy gesê.

In nóg ’n voorval op Dinsdag 4 Januarie het ’n vrou omstreeks 21:15 voor die kompleks geparkeer. Sy het nog in haar motor gesit toe twee mans haar met ’n mes gedreig en haar probeer beroof het. Sy het hard gegil, waarna die rowers die aftog geblaas het.

Daar is ook gerugte van ’n vrou wat met ’n vuurwapen in ’n soortgelyke voorval gedreig is, maar TygerBurger kon nie die voorval bevestig nie.

In ander voorvalle – ook by ander komplekse in Kerkstraat – is klippe, of een keer ’n baksteen, deur ruite gegooi van motors wat in die straat geparkeer word. Daar is volgens haar gereeld inbrake by motors.

Dié aanvalle kom nadat die elektriese heining se drade by hul kompleks op 31 Desember omstreeks 12:30 afgesny is en dit die alarm geaktiveer het.

“Ons het dit laat regmaak, maar net ’n paar dae later omstreeks 23:00 is die kragdraad na die elektriese heining en hek weer afgesny,” het die vrou gesê.

Volgens haar vrees die inwoners in die straat nou nóg aanvalle.

Telefone werk nie

Whatsapp-groepe is begin vir die straat en sakegebied, waarop inwoners misdaad en verdagte mense kan aanmeld, het sy gesê. Hulle beplan ook ’n buurtwag vir die straat om saans die gebied te patrolleer.

“Die ergste is dat die voorval net ’n ent van die polisiekantoor gebeur het. Ons kon ook nie antwoord by die polisiekantoor kry toe ons hulp wou ontbied nie, want hul telefoonlyne is glo al van verlede jaar af buite werking.

“Ook 10111 het nie geantwoord nie – net een keer uit drie kere wat ek gebel het, het ek antwoord gekry, en ek wag nou nog dat iemand uitkom,” het sy gesê.

“Ons as gemeenskap gaan self iets hieraan moet doen,” het sy gesê.

Kapt. Marchell Rhode, woordvoerder van die Durbanville-polisie, het die mesaanval bevestig.

Volgens hom is die telefoonlyne al etlike maande buite werking, maar word daar op die betrokke provinsiale departement gewag om die telefoonstelsel te herstel.

Mense moet 08600 10111 skakel in noodgevalle, asook om alle klagtes aan te meld, het hy gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article