Volgende Donderdag kan sterrekykers uitsien na die vyfde volmaan van die jaar, wat herdoop is na die Rypmaan vir die Suid-Afrikaanse erfenis-maanlys.
Dis ook die eerste van twee volmane in Mei.
Die lys is in 2020 opgestel deur die Kaapse nie-winsgewende organisasie Centre for Astronomical Heritage, met die doelwit om die Amerikaanse volmaanname te vervang met name wat Suid-Afrika se kultuurgeskiedenis uitbeeld.
Edward Foster, amateur-sterrekundige en direkteur by die Centre for Astronomical Heritage, verduidelik die relevansie van dié naam.
“In die meeste streke in Suid Afrika wat ryp ondervind in die winter, het dit al geryp teen Mei. Trouens, sommige dele kry reeds ryp in April of selfs nog vroeër – in Maart al. Wanneer dit ryp, word grasperke met yskristalle oortrek en motors se voorruite, heiningpale, plaashekke en alles wat oornag buite gestaan het, kry ook ’n laag ryp. Die witgerypte oggende is ’n seker aanduiding dat die winter begin het,” sê hy.
“Die winter in die voor-koloniale tyd was dikwels vir Suid-Afrikaners ’n tyd van honger en ontbering, veral as die oes in die voorafgaande somer sleg was. Beesoppassertjies in die hoogliggende gedeeltes soos die Drakensberg was destyds, en word steeds, aan baie strawwe winterweer blootgestel en sterfgevalle is nie ongewoon nie, voeg hy by.
Vandag ondervind baie verarmde Suid-Afrikaners, veral in plattelandse gebiede, nog steeds groot ontbering in die winter omdat werksgeleenthede in die landbou min raak nadat oeste ingesamel is.
“Ryp is beslis nie mooi of prettig vir almal nie en heelparty plattelandse kinders gaan gereeld koud en honger in die winter slaap.
“Laat ryp aan die einde van ’n winter wat sy voete sleep en nie vir die lente wyk nie, kan rampspoedig wees vir boere aangesien dit veral saailinge en botsels aan bome knou wat die verwagte oeste drasties kan verminder of selfs geheel en al vernietig.”
Volgens Foster verwys die Noord-Amerikaanse benaming, Flower Moon, na die feit dat dit nou lente daar is en blomme oral bloei.
“Dit is beslis nie die geval in Suid-Afrika nie. Daarom is die naamsverandering beslis geografies en kultureel korrek.”
Volmaan bepaal Paasfees
In sommige maande, soos in Mei, beleef ons die redelik skaars verskynsel van ’n tweede volmaan bekend as ’n Blou Maan.
“Die tweede volmaan in Mei is die Vuurmaan, maar ons gaan die Vuurmaan slegs twee keer sien tussen nou en 2050 – op 31 Mei 2026 en weer op die 30 Mei 2045,” sê Foster.
Foster sê meeste van die lesers sou al opgelet het dat die datum waarop Paasfees plaasvind, rondspring van jaar tot jaar, omdat die datum vir Paasfees in die Christelike kerk bepaal deur twee reëls, wat albei met die volmaan te doene het.
Paassondag word herdenk op die eerste Sondag ná die eerste volmaan wat volg op die herfs-ewening in Maart.
Indien die volmaan in reël 1 op ‘n Sondag val, is Paassondag op die eerste Sondag daarna.
“Die herfs-ewening in Maart, vir diegene wat dalk vergeet het, is die datum waarop die nagte langer begin raak as die dae soos wat die jaar koers kies na die winter toe.”





