Sommiges was gelukkig en kon vinnig in en uit terwyl ander verlede Woensdag ure moes toustaan om hul kruisies te kon trek.
Plek-plek het lang rye dié wat oud genoeg is aan die 1994-verkiesing herinner. Kiesers met wie TygerBurger buite stemlokale gesels het, was egter vasberade om te stem.
Aidan (23) en Casey Hurling (25) het namiddag by die rugbyklub in Jagtershof gaan stem. Die wag was bietjie lank, maar hulle het darem hul kampstoele saamgebring.
Casey het gegrap die toustaan is goeie voorbereiding vir binnelandse sake. Dit was albei se eerste keer om te stem. Casey het vergeet om voor die vorige verkiesing te registreer, maar hierdie keer seker gemaak.
“Ons kan nie wens vir verandering as ons nie aansluit by diegene wat die verandering wil sien nie.”
Inam Magaga (20) kon vir die eerste keer stem. “Ek het gedink ek gaan op my senuwees wees, maar was glad nie. Dit is belangrik om te stem. Gegewe die toestand van die land benodig ons beslis verandering. Ek dink baie jongmense voel dit is nie nodig om te stem nie want dit is net dieselfde mense oor en oor, maar ek voel as ons standpunt inneem en stem kan ons as jeug verandering bring.”
Inam was tevrede om net sowat ’n uur te moes toustaan by die rugbyklub, nes Quintin Pretorius en Marilize Mathys, wat ook albei die eerste keer gestem het maar bietjie ouer is.
“Ek voel dit is ’n baie kritiese tyd in ons land veral nou omdat politieke partye verskriklik verdeel word,” het Quintin gesê. Hy wil die regte mense in posisies sien wat besluite moet maak.
Marelize voel dit is elke landsburger se verantwoordelikheid om hul kruisies te trek. “Ons kan nie kla en verandering vra as ons nie wil vorentoe kom om die verandering te maak nie.”
Sy het bietjie skaam gekry dat dit die eerste keer was wat sy gestem het. “Vir my wat onlangs ma geword het, is dit nou belangriker om die beste moontlike toekoms vir my kind te verseker. As ek niks doen nie, doen ek ’n onreg aan my kind. Dit gaan nie meer net oor myself nie, maar ook die generasies wat kom.
“Ons almal het ’n stem en hierdie is een manier om jou merk te maak.”
Lang rye
By die NG kerk De Eike was daar die hele dag lang rye. Baie mense het ’n paar keer kom kyk of die rye korter raak maar die hoop het nes die heerlike warm weer teen die aand heeltemal weggekwyn.
Erna Peters het na 19:00 buite die heining van die kerk se parkeerterrein, waar ’n ellelange kronkelende ry begin het, ingeval nadat sy eers ’n warm baadjie by die huis gaan haal het.
“Ek stem gewoonlik hier maar dit is die eerste keer dat dit so erg lyk.
“Ons het gedink as ons later kom, gaan dit okei wees. Sy sou staan in wind en weer om te stem in die hoop vir verandering. Ons weet in watter gemors ons land is. As ons nie gaan stem nie, kan ons nie agterna kla nie; ons staan maar.”
Marius van Loggerenberg het vier keer teruggekom om uiteindelik te stem. “Mense het gesê daar was vanoggend fout met die scanners, maar ek weet nie of dit so is nie. Die ry het korter geraak en toe langer. Nou is dit die langste wat ek gesien het. Gelukkig is hier baie mense wat wil stem. Dit is positief. Ons mag nie kla nie; jy moet eers stem.”
Juliana Hendricks, wie se een dogter reeds in Nieu-Seeland woon en nog een binnekort op pad is België toe, het gesê as almal net kan saamwerk, sal Suid-Afrika ’n wonderlike land wees.
As onderwyser sien sy hoe niemand binne die skoolstelsel verantwoordelikheid wil aanvaar nie en ander blameer vir tekortkominge.
Haar man het bygevoeg Suid-Afrika is ’n “ineptocracy” met onbevoegde leiers wat in weelde lewe terwyl die belastingbetalers krimp.
Wag
Kutala Mwanda (52) se dogter het in die ry gestaan terwyl sy kort voor 21:00 onder ’n kombers op haar kampstoel probeer warm bly het. Hulle het die oggend en die middag kom kyk hoe lyk die rye en het weer huis toe gegaan.
“Nou moet ons maar wag; ons het nie ’n keuse nie.”
Sy het in 1994 die eerste keer gestem – in Nyanga. “Natuurlik is dit belangrik om te stem. Hierdie rye laat dink my aan 1994.”
Bo aan haar wenslysie vir Suid-Afrika is ’n einde aan beurtkrag. “Ek is eintlik okei met die ander goed, maar ek is moeg vir beurtkrag. En die misdaad in Suid-Afrika is baie sleg. Ek sal bly wees as die doodstraf kan terugkom.”
Andrew Calvert (32), een van die agterosse in die ry nadat die hekke 21:00 toegemaak is, het vier jaar gelede van George na Kaapstad getrek.
“Om te stem is elkeen se demokratiese reg. Dit is tog belangrik dat elkeen sy stem laat hoor, en weet waarvoor hulle staan en ‘align’ met wie hulle dink die beste party is wat hul ‘views’ vorentoe kan neem.”
Hy en sy vriend het gehoop om voor middernag te stem.
Baltram September, wat al 20 jaar in die omtrek woon, was tweede laaste in die ry.
“Ek het nog elke verkiesing gestem en het nog nooit soveel mense sien stem nie.
sê hy.
Baltram was verras deur die lang rye, maar het gedink dit is belowend.
“Mense is ten minste kwaad genoeg om uit te kom.”
Lesley Johnson en haar dogters het na 22:00 en meer as drie ure se toustaan al stywer teenmekaar begin staan in die yskoue wind. Hulle het geskerts met die jongste wie die eerste keer kon stem en weens die lang wag nie ’n gratis donut’, koffie of bier sou kon kry nie. “Dis okay, ons sal maar vir haar ’n donut en koffie koop en vir haar ’n bier gee by die huis.”
Die Johnsons en ’n paartjie voor hulle in die ry het jammer gevoel vir ’n man wat twee uur lank saam met hulle tougestaan het en toe net na 21:00 weggewys is nadat hy teruggekom het nadat hy sy kind huis toe gevat het omdat dit so koud was.
Nicole Johnson wat kort ná die 1994-verkiesing gebore is, het gesê haar ma, Lesley, sal dit beslis onthou omdat sy hoogswanger moes toustaan. Sy het geen voorkeur gekry nie. “Nee, ek moes wag, maar dit was ook opwindend; jy wou stem,” het Lesley gesê.





