Flip de Bruin (links) is hier saam met Rudi van Zyl, wat met sy nuwe fiets en baadjie spog. By hulle staan Abby en Andrew Winter.


Kort nadat die Hoërskool Stellenberg se vriendelike veiligheidswag, Rudi van Zyl, een oggend douvoordag deur ’n groep rowers geteiken en van sy fiets beroof is, het die gemeenskap hom met ’n splinternuwe ryding verras.

“Rudi was onlangs die slagoffer van gewetenlose misdadigers wat hom aangerand en van sy fiets en rugsak beroof het. Rudi se enigste vervoer was sy fiets, en toe dié nuus van die diefstal op ’n plaaslike WhatsApp-fietsrygroep geplaas is, het die groep behoorlik hand in die sak gesteek om te help,” sê Louw Lombard. 

Rudi, van Brackenfell, se gesig het omtrent van blydskap en dankbaarheid gestraal toe dié barmhartiges vir hom op Donderdagoggend 19 September met dié skenking seën. 

“Onder leiding van Flip de Bruin (leier van die Team Flip-fietsrygroep) en Andrew Winter (lid van Team Flip) is aan Rudi ’n nuwe fiets oorhandig, tesame met ’n valhelm, ’n fietsrybaadjie, slot en ligte sodat hy veiliger kan wees in die donker as hy heen en weer van die werk pendel.

”Nie net het die lede van Team Flip gehelp dat Rudi weer wiele het nie, maar hulle het ook bygedra om vir hom geld te skenk.

Pligsgetrou

Rudi werk sedert 2019 by Bolt Risk Management, wat pligsgetrou sedert 2020 by die hoërskool waghou. 

Stellenberg

Die Hoërskool Stellenberg se vriendelike veiligheidswag, Rudi van Zyl, se hart het Donderdag 19 September oorgeloop van dankbaarheid.

Die eienaar van Bolt Risk Management, Phillip van Zijl, sê Rudi is een van daardie ster-werknemers wat werklik toegewyd en met trots sy werk doen. 

“Dit is met groot waardering dat ons kennis neem van die Team Flip-fietsryklub se mooi gebaar om vir Rudi só ’n nuwe weg te baan. Veiligheidswerk is ’n ondankbare werk waar kritiek verreweg erkenning oorskadu,” voeg Van Zijl by. 

“Ek glo dat hierdie gebaar werklik vir Rudi baie beteken en hom sal motiveer om ten spyte van hierdie negatiewe voorval aan te hou om sy taak met toewyding uit te voer.

”Volgens Andras Molnar, hoof van sport by Stellenberg, is Rudi ’n ware staatmaker: “Rudi is die eerste gesig wat jy by Stellenberg sal sien. Hy is altyd vriendelik, gaaf en behulpsaam en verrig sy take met trots en toewyding.” 

Nodeloos om te sê was Rudi in ekstase toe hy die nuwe fiets ontvang het.

“Ek wil net sê baie, baie, baie dankie aan die mense wat vir my hierdie nuwe fiets gegee het. Dit is ’n wonderlike geskenk en ek waardeer dit uit die diepte van my hart!”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article