Dit verg baie maande van beplanning en bitter min slaap om die grootste Kersmark in die noordelike voorstede te kan hou.
Maar die organiseerder is mal oor die uitdaging.
“Ek love dit,” sê Karen Visagie, koördineerder van die Stellenberg-feesmark.
“Ek hou van mense en mooi goed. En dis ’n groot geldinsameling vir die kerk.”
Visagie en Deon Maree, terreinbestuurder, is albei nog nuut in hul poste, en dit is hul eerste mark sonder Covid-maatreëls.
Die uitdaging het hulle egter nie afgesit nie en vanjaar se mark is met 450 uitstallers die grootste nóg.
Visagie begin al in Maart aan die mark beplan en moet deur honderde aansoeke sif vir wat die beste sal pas. Hulle kyk hoofsaaklik na pryse en of dit plaaslik en handgemaak is.
Vanjaar wou sy ook meer verskeidenheid vir mans by die mark hê.
’n Ander reuse-verandering is aan die kos. In plaas van een kostent met net een kosverskaffer, is daar nou nege verskillende stalletjies wat uiteenlopende geregte voorsit.
Boonop is daar ook ’n koffiewinkel in die middel van die mark se roete, waar kopers vanjaar ’n blaaskans kan neem.
Die mark is ook vanjaar heeltemal rolstoelvriendelik, sê Maree. Daar was vroeër jare altyd haakplekke met rolstoele, waar dit nou ’n gladde en gemaklike roete is.
Hulle het ook seker gemaak daar is ’n behoorlike kragopwekker sodat feesgangers nie deur beurtkrag beïnvloed word nie.
“Ons slaap maar bietjie min,” sê Maree laggend. Daar is tientalle uitdagings wat uurliks oor hul pad kom en hul fone hou nie op met lui nie.
- Die feesmark duur tot Saterdag 5 November. Dit is van Maandae tot Vrydae van 10:00 tot 20:00 oop, en op Saterdae van 09:00 tot 18:00.
Die mark is op Sondae gesluit.





