Daar is skaars skoongemaak, of twee tente is weer opgerig.FOTO: Verskaf

Credit: SYSTEM

’n Stegie in Van Riebeeckstraat in Goodwood is ’n bron van groot kommer vir inwoners.

In hierdie gangetjie het haweloses hulself tuisgemaak en nou sit die inwoners met die probleem van dwelms op hul voorstoep.

Sarel van der Westhuizen (67) sê hy het op 3 Oktober ’n paar e-posse uitgestuur en op Donderdag (6 Oktober) is sy gebede verhoor toe ’n groep werkers van die Stad Kaapstad daar kom skoonmaak het.

Maar Van der Westhuizen vertel dit was van korte duur, want toe hy omstreeks 13:00 terugkom huis toe, was daar weer twee tente.

Hy meen die heel beste oplossing sal wees dat die Hoërskool President die grond moet kry omdat dit direk teenaan die skool se heining is of hulle moet die hele area toemaak met ’n heining sodat niemand daar kan ingaan nie. Dit moet ook voortdurend gesluit word, sê Van der Westhuizen.

Die mure moet ook herstel word sodat niemand weer goed daaroor gooi nie, sê hy.

Probleem sedert 2009

Volgens Van der Westhuizen sal dit vir ewig die probleem oplos “en dan kan ons rustig slaap, want ek kan nie nou rustig slaap nie”.

Hy sê hulle het nou al hierdie probleem sedert 2009. Volgens hom het hy vir die wykraadslid, Franchesca Walker, en die DA e-posse gestuur, “maar Franchesca maak beloftes wat sy nie kan nakom nie”.

Die probleem ontstaan omdat die hek nooit gesluit word nie en haweloses oor die muur klim.

Die tente waaroor inwoners van Van Riebeeckstraat so ongelukkig is.FOTO: Verskaf

Van der Westhuizen meen dit is baie onveilig, en hulle kan nooit rustig slaap nie, want honde blaf onnodig.

Die 67-jarige sê in die tente is daar prostitute en dwelms. Seks vind plaas, en hulle brand ook gedurig koperdrade, wat stink.

“Ek was al jare gelede by die raad en hulle het toe al gesê daai stegie is gevaarlik en hulle verkoop dwelms in die gangetjie.”

Van der Westhuizen smeek dat die Stad Kaapstad dit so gou moontlik moet sluit.

Hy meen dit is nie meer lekker om daar te bly nie. “Sluit die hek, dan is die probleem opgelos!”

Walker het teen druktyd nog nie op TygerBurger se navraag gereageer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article