Bheki Cele, die minister van polisie, het Vrydag die misdaadstatistieke vir die derde kwartaal van 2022 (1 Oktober tot 31 Desember 2022) bekend gemaak en dit is met skok begroet.
Die statistieke wys dat 1 101 vroue en 300 kinders in die drie maande landwyd vermoor is.
Altesaam 7 555 mense is vermoor.
Daar was ook 1 636 voorvalle van poging tot moord op vroue, terwyl 1 579 ernstig aangerand is.
Nader aan die huis was die Mfuleni-polisiekantoor sewende wat die aanmeld van ernstige misdade betref – 348 voorvalle meer of ’n styging van 21,4%, terwyl Delft 17de was met ’n styging van 39 voorvalle (2,4%).
By kontakmisdade, insluitend moord, poging tot moord, seksuele misdade, verkragting en seksuele aanranding, is Mfuleni tweede (24,3%-styging; 220 voorvalle) en Delft tiende (0,3%-styging; 3 voorvalle). Die meeste moorde in die land is by die Mfuleni-polisiekantoor aangemeld (89) en die derde meeste by Delft (86). In die Mfuleni-polisiëringsgebied is ses verkragtings aangemeld.
Charles George, gemeenskapsleier van Delft, sê die statistieke is geen verrassing nie.
“Die inwoners van Delft leef daagliks in vrees en hierdie statistiek is net spoeg in die gesig van die gemeenskap. Wat die polisie met die bekendmaking van die statistieke bewys, is dat hulle onbevoeg is om die vlaag van misdaad in Delft te bekamp. Ons het dit al oor en oor gesê, maar ek herhaal, hier is nie genoeg beamptes in Delft om misdaad hok te slaan nie,” sê George.
Volgens hom moet die statistiek as vertrekpunt gebruik word om die hele polisiekantoor in Delft te herbedink. “Sedert die ontstaan van Delft het die omgewing al so uitgebrei dat een polisiekantoor nie genoeg is nie. Net tydens die inperking in 2020 en 2021 het duisende mense in Delft begin plak, wat polisiewerk moeilik en selfs onmoontlik maak. Vangwaens kan sommige plekke nie eens bereik nie,” sê George.





