Tielman Roos gesels met stappers op Mooiplaas se staproete.FOTO’s: Carina Roux


Die natuur is vir hom ’n bron van energie. Elke keer as Tielman Roos die 5,6 km-sirkelroete deur die 70 ha private natuurreservaat op Mooiplaas stap, sien hy iets anders raak.

TygerBurger het op Saterdag 15 Oktober saam gaan stap toe Roos, eienaar en wynboukundige van die plaas in die Bottelary-heuwels, ’n groep stappers op die roete met ryk plantlewe en mooi uitsigte gelei het.

Roos is tans voorsitter van die Bottelaryheuwels-renosterveldbewarea, waaronder Mooiplaas se private natuurreservaat val. Die plaas was in 2020 ook die eerste in die Bottelary-wynstreek om as ’n Wêreld-natuurfonds (WWF) -bewaringskampioen aangekondig te word.

Die Bottelary-bewarea het tans 50 grondeienaars as lede, wat saamwerk om bewaring aan te moedig deur volhoubare boerderypraktyke, die uitroei van indringerplantegroei en die hervestiging van renosterveld.

Aangesien renosterveld op vrugbare grond groei, is dit wyd met landbougewasse vervang. Na raming is daar slegs sowat 4% van die oorspronklike renosterveld in die Wes-Kaap oor.

Die bewarea poog dus om die plantegroei wat deel uitmaak van die Kaapse floraryk te bewaar.

Dit sluit die kritiek bedreigde Swartland-graniet-renosterveld in.

Geskiedenis

Roos het in sy verwelkomingsboodskap ’n draai deur die Bottelary-gebied se geskiedenis gegooi om bietjie insig te gee oor die “ou gebied”, wat ’n aantal mooi herehuise het. Die nabygeleë Hazendal, wat in 1699 deur goewerneur Willem Adriaan van der Stel aan Christoffel Hazenwinkel toegeken is, se herehuis is een van die min wat suid front (die meeste front noord).

’n Latere eienaar, ’n Van As, het die spoggerige groot huis blykbaar op aanbeveling van sy vrou laat bou – in 1790. Roos het geskerts ’n man moet homself altyd afvra of wat sy vrou sê, goed is vir besigheid (weens omstandighede moes Van As later sy plaas verkoop).

Hazendal se huis is vol Oregon-dennehout, wat Roos sê destyds rykmanshout was. Die arm mense het geelhout gebruik.In Mooiplaas se herehuis (1833) is net geelhout buiten die konsertinadeur in die voorportaal, wat van Oregon is – seker om indruk te maak met die intrapslag, reken Roos. Die huis is in twee fases gebou – die oudste deel saam met die stal in 1806, sê Roos.

Landbou en natuur

Die Bottelary-gebied was en is ’n spens, maar Roos sê hy neem waar hoe dinge in die landboubedryf agteruitgaan.

“Die wat oorleef, is diegene wat strategies verander – en betyds, want om te verander kos geld.”

Roos sê daar moet gepoog word om in ooreenstemming met die “grondwet van die natuur” te werk – soos deklae in die wingerde, wat sorg vir organiese materiaal wat weer in die grond opgeneem kan word.

Stevie Smit van Koopmanskloof was ’n groot natuurliefhebber en baie lief vir stap. Hy het al lank voor daar iets soos bewareas was, met die konsep begin, vertel Roos. Oom Stevie (soos hy bekend was) het in 1980 ’n private natuurreservaat op ’n gedeelte van sy plaas gestig om die bedreigde plantegroei te beskerm.

Die Bottelary-bewarea is vandag deel van die groter Kaapse Wynland-biosfeer. Roos het Mooiplaas se reservaat in 1995 gestig. “Dit is ’n verbintenis wat jy maak teenoor die omgewing, want jy kan nie meer daar boer nie.”

Stappers op Mooiplaas.FOTO:

Een van Tielman Roos se honde snuffel tussen die aalwyntjies wat in grond van slegs sowat ’n sentimeter diep bo-op die granietrots groei langs Mooiplaas se staproete. FOTO:

Die 50 grondeienaars van die bewarea bestuur sowat 1 500 ha binne ’n gebied van 10 000 ha – 15% van die oppervlak, sê Roos.

Roos sê eintlik gaan dit goed met die bewarea, maar daar is uitdagings. Hy sê naby Elim is ’n bewarea wat al internasionale finansiering ontsluit het. As bewarea is daar sogenaamde “Landcare”- finansiering van die staat, wat direk gaan vir skoonmaak van die veld, maar dit is belangrik dat die bewarea op sy eie voete moet kan staan, sê Roos.

Hier speel die netwerk van bergfietsroetes, wat in 2011 begin is en tans oor 130 km strek, ’n belangrike rol. Veldwedlope en begeleide staproetes is nuwe inkomstebronne wat verken word.

Tydens die stap word elke nou en dan gestop om iets interessants uit te wys. ’n Kundige het onlangs genoem dat hy nog nooit soveel viooltjies op ’n stukkie grond gesien het nie, vertel Roos. Die vorige week is ’n rooikat gewaar. Daar is tekens van duikers en steenbokkies. Bolle wat uitgegrawe is, dui op ystervarke.

“Twee derdes van die veld sien jy net tussen Augustus en November, want dit is bolle en knolle wat uitgroei en terugsterf as die siklus voltooi is. Dit is wat dit altyd interessant maak – elke keer as ek stap, blom iets anders.”

Op Mooiplaas was voorheen baie bloekombome. Die bosse wat oorgebly het, is eintlik in gevangenis, sê Roos. “Hulle kan daar bly, maar hul mag nie uit nie. Bloekom het ’n plek, maar kan nie doen wat hy wil nie.”

Roos wys die plantegroei verskil weens grondverskille, asook die hoogte en die ligging ten opsigte van sonlig. Die reservaat se ligging rondom ’n koppie dra dus by tot groter diversiteit.

“Dis die dilemma met boerdery wat ’n monokultuur wil skep binne ’n diverse omgewing.”

Om ’n beter balans te vind en rentmeesterskap, is vir Roos belangrik. Hy sê belangstellendes kan help om die spesie-diversiteit te bepaal, wat nodig is vir ’n databank om finansiering te bekom.

Spesielys

Christel Liebenberg, kommunikasie- en bemarkingbestuurder van die bewarea, sê met behulp van die WWF word daar vir drie plase ’n spesielys opgestel om ’n aanduiding van bedreigde plante te gee. Daar word ook gekyk na plante wat onwettig gestroop word. Dit kan dan dien as platform om finansiering te bekom.

Liebenberg sê dit kan baie help as meer mense die toepassing (app) iNaturalist, wat plantidentifisering doen, sal gebruik. Sy sê dit het ’n ingeboude filter wat verhoed dat die ligging van ’n bedreigde plant aangedui word.

Die jaarlikse Bottelary-bergfietspermit is tans op afslag vir R420 en sluit toegang tot die Polkadraai-fietspark in tot 31 Desember. Dagpermitte kos R70.

Besoek www.bottelaryconservancy.co.za vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article