Die dassie wat in Stellenberg gewaar is.


’n Dassie het moontlik Tafelberg en Stellenberg verwar en kruip nou te heerlik in die dreine van die voorstad rond.

Foto’s wys hoe hy (of sy) eers uit die stormwaterdrein kom en dan versigtig naby sy veilige hawe bly, voordat hy dit waag om ’n bietjie verder weg te hardloop.

“Dis ’n mooi gesonde, vet dassie. Ek het eers gedink dis ’n rot en toe besef ek dis te groot,” sê Franz Kuffner, wat die dassie in Montaguestraat gesien het.

Die dassie is ook in Mauritiusstraat gewaar.

Alet du Preez, voorsitter van die Stellenberg-buurtwag, het die dassie in die middernagtelike ure gewaar.

Sy en Kuffner sê albei die dassie is nie mak nie. “Sodra ’n kar verbygaan, gaan hy weer in die pype in,” sê Kuffner.

Die dassie se verblyf in Stellenberg is glad nie vreemd nie, sê Dave Pepler, ’n omgewingskenner.

“Wilde diere betrek toenemend stedelike woongebiede, en die dassie se voorkoms verbaas my allermins. Soos roofvoëls hoë geboue vir kranse aansien, so beskou die dassie die waterpyp as ’n grot.”

Petro van Rhyn, bestuurder by Cape Nature, stem saam.

“Hoewel dassies gewoonlik in klipskeure en holtes in rotsriwwe en kranse skuil (daarom die naam “rock hyrax” in Engels) kan hulle in ’n wye verskeidenheid habitatte oorleef en is hulle nogal goed daarmee om in beboude gebiede te oorleef – soos ook in Bettiesbaai,” sê sy.

Hulle grawe nie self gate nie, maar bly soms in gate wat ander diere gemaak het.

Die nuwe vraag op almal se lippe is wat van die dassie geword het. Buurtwaglede het hom nog nie sedert Januarie gesien nie, wat kan beteken dat hy gevrek of aanbeweeg het.

Sy besoek was so kort hy het nog nie eens ’n naam gehad nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article