My dank aan me. Martie du Plessis vir haar ope brief waarin sy kommer oor Goodwood uitspreek (“ ’n Ope brief aan Geordin Hill-Lewis”, TygerBurger5 Julie), ’n plek wat ek goed ken omdat ek daar naby woon.
Wanneer ek met inwoners reg oor ons stad praat, besef ek altyd net weer dat ons dieselfde dinge vir ons buurte, ons gesinne en ons gedeelde toekoms as Kapenaars wil hê.
Ons wil sien dat ons stad mettertyd ’n selfs beter plek word om in te woon – met betroubare munisipale dienste, openbare fasiliteite waarop ons trots kan wees en ondersteuning aan die mees weerlose inwoners, wat hulp vir haweloses insluit sodat hulle van die strate af kan kom.
Openbare plekke moet skoon, veilig en oop vir almal wees. Ons werk hard om die kwessie van mense wat reg oor ons stad op straat woon, op te los.
Die Stad se maatskaplike ontwikkelingsbeamptes is besig met ’n metrowye opname van die maatskaplike behoeftes van mense wat op straat woon. Ons bied maatskaplike bystand sodat hulle die strate vir altyd kan verlaat. Dit sluit in ruimte by skuilings, wat deur nieregeringsorganisasies (NGO’s) bedryf word, en die Stad se Safe Spaces, wat waardige oorgangskuiling bied tesame met maatskaplike programme vir die herintegrasie van mense in die samelewing.
In samewerking met ons vennote by NGO’s, stadsverbeteringsdistrikte en inwoners gaan die Stad oor drie jaar R230 miljoen bestee om ons Safe Space-fasiliteite verder as die middestad en Bellville uit te brei.
Ek sal dit verwelkom as belanghebbendes in Goodwood ons kontak oor opsies vir ’n plaaslike Safe Space sodat meer hawelose mense van die strate af kan kom.
Waar aanbiedings van maatskaplike ondersteuning en skuiling van die hand gewys word en waar woonplekke gevestig is, het die Stad geen ander opsie as om die howe volgens die PIE-wet om ’n uitsettingsbevel te nader nie. Geen mens het die reg om ’n openbare plek as hul eksklusiewe plek te reserveer terwyl hulle alle aanbiedings van skuiling en maatskaplike bystand weier nie.
Amptenare stel my in kennis dat hulle twee keer per week skoonmaak en verordeninge toepas by openbare plekke in Goodwood wat onregmatig deur mense beset word.
Die Stad maak ook gereed om die howe om uitsettingsbevele te nader waar ons aanbiedinge van maatskaplike ondersteuning aanhoudend van die hand gewys word.
Wat die kommer oor openbare fasiliteite betref, ondergaan die Goodwood- munisipale gebou tans herstelwerk en opknapping. Inwoners kan ook met verwagting uitsien na die beter “snel toustaanstelsels” wat by ons fasiliteite ingefaseer sal word.
Beperkte ruimte by sommige van ons geboue veroorsaak wel dat mense op die besigste tye buite moet toustaan, maar ek wil alle amptenare in die openbaar daaraan herinner dat bejaardes en verswakte en siek mense te alle tye met sorg hanteer moet word. Weerlose inwoners moenie in slegte weer en onwaardige toestande buite toustaan nie – voorkeurbystand moet verskaf word.
Ek is ook in kennis gestel dat alle hekke by die plaaslike biblioteek nou werk en ná werksure gesluit word. Sekerheidsbeamptes patrolleer gereeld om seker te maak niemand slaap bedags op die biblioteekterrein nie.
Vordering wat betref ander punte in die ope brief:
- Ons is volstoom aan die gang om gras te sny aangesien die tenderprobleme in Januarie opgelos is, en inwoners behoort duidelik te kan sien dat dit netjieser lyk.
- Daar is spanne wat daagliks in drie skofte die gebied skoonmaak, met ’n span van minstens 15 per skof in Goodwood. Dit word ondersteun deur spanne wat vinnig inkom om weekliks rommelstrooiery en stortingsbrandpunte skoon te maak.
- Omvattende padinstandhouding is oor die afgelope twee jaar in Frans Conradierylaan en Miltonweg gedoen. ’n Volle rehabilitasieprojek sal geskeduleer word soos nodig. Giel Bassonrylaan is onlangs volledig gerehabiliteer weens “krokodilkrake” op hierdie belangrike roete wat Voortrekkerweg, die N1 en die N7 verbind.
- Die Stad het die afgelope twee jaar R17 miljoen aan die herstel van slaggate bestee, met nog baie meer wat kom. Slaggate moet by 0800 65 64 63 of transport.Info@capetown.gov.za aangemeld word.
- Die Stad het in 2022/23 R2,4 miljoen bestee om waterpype in Riebeeckstraat en verbindings in Falcon-, Cook- en Airportstraat oor ’n afstand van 1 365 m te vervang. Die verdere besteding van R2 miljoen word vanjaar vir Oranjestraat beplan – vir altesaam 860 m.
- Sedert 2019/20 het die Stad R2 miljoen belê in die rehabilitasie van die hoofrioolpypleiding in Dingleweg van Hugostraat tot Riebeeckstraat oor ’n afstand van altesaam 1 535 m. Begrotingsfondse word opsy gehou vir nog rioolpypvervanging in die gebied waar dit nodig sou wees.
Ek hoop hierdie samevatting, hoewel dit nie allesomvattend is nie, bied darem ’n blik op wat die Stad doen om te verseker Goodwood sal in die toekoms ’n selfs beter plek wees om in te woon.
Ons deure is altyd oop om te gesels oor waar ons saam met inwoners meer kan doen.




