Inwoners het tot 30 April om kommentaar te lewer op die Stad Kaapstad se konsepbegroting vir die 2024/25-boekjaar.
Die totale begroting beloop R76,4 biljoen, waarvan R12,1 biljoen vir infrastruktuur begroot word.
TygerBurger het met Johannes van der Merwe, voorsitter van subraad 21 (wat wyk 11, 14 en 19 binne Kuilsrivier insluit), gesels oor die begroting in die algemeen, asook wat spesifiek vir Kuilsrivier in die vooruitsig is.
Van der Merwe sê die R12,1 biljoen wat vir infrastruktuur (kapitaalprojekte) begroot word, is die grootste kapitaalbegroting tot nog toe vir die Stad.
“Ons noem dit die ‘bou vir werk’-begroting. Dit het ten doel om oor die volgende drie jaar 130 000 nuwe poste in die konstruksiesektor te skep.”
Sowat 75% van die beplande infrastruktuur sal tot voordeel van laerinkomste-inwoners wees, sê hy.
“R4,8 biljoen word opsygesit vir die Stad se deernisbeleid, die sogenaamde indigent relief en pension rebates.”
Van der Merwe sê die nasionale tesourie betaal jaarliks aan elke metro ’n toewysing (equitable share) vir deernistoegewings.
“Omdat die nasionale regering orals (op hul begroting en toewysings) gesny het, het die Stad Kaapstad R110 miljoen minder gekry, maar omdat ons ’n Stad is wat omgee, het ons die R4,8 biljoen dieselfde gehou en nie verminder nie.”
Tariefverhogings
Buiten toewysings van nasionale regeringskant is die Stad se enigste ander bron van inkomste tariewe en eiendomsbelasting, sê Van der Merwe.
“Inflasie is sowat 5,5 %, maar die vooruitskatting is nagenoeg 6%. Eiendomsbelasting en die tarief vir vullisverwydering verhoog beide met 5,70% – dit is onder die (inflasie-)projeksie.”
Water- en sanitasietariewe verhoog met 6,80%.
“Die rede dat die styging hoër as inflasie is, is omdat sowat R6,8 biljoen van die R12,1 biljoen (kapitaalprojekte) opsygesit is vir water en sanitasie – om die netwerk op te knap, asook die pompstasies en infrastruktuur van waterwerke,” sê Van der Merwe.
Die elektrisiteitstarief styg met 11,78%.
“Onthou, die Stad koop ook elektrisiteit by Eskom aan.”
Aangesien Eskom se tariefverhoging 12,74% is, subsidieer die Stad dus eintlik die tarief met amper 1%, sê hy.
Wyke
Van die groter Stadsprojekte in die Kuilsrivier-omgewing is padwerke. Vir die verlenging van Saxdownspad tussen Langverwachtpad en Van Riebeeckweg, waaraan werk vanjaar begin het, is R47 miljoen in die nuwe boekjaar begroot. Vir die verdubbeling van Amandelweg, wat voltooiing nader, is daar nog R2,4 miljoen.
Vir die oprig van strukture vir informele handel agter die Shoprite-sentrum is R5,4 miljoen oor die volgende jaar begroot.
Meerjarige projekte (met ’n totale koste van meer as R50 miljoen) sluit in die bou van die Zevenwacht-reservoir en -waternetwerk, asook ’n 16,8 km-pyplyn vir behandelde afvalwater vanaf die Bellville-waterwerke na Kuilsrivier.
Wyksbegrotings beloop tans R1 miljoen per wyk. Van die groter toewysings vir die nuwe boekjaar in Wyk 11 sluit in: R230 000 vir die bou van sypaadjies in Sarepta; R100 000 elk vir die opknap van drie parke (in Mikro-, Fisant- en Samuelstraat); R147 000 vir toerusting vir buurtwagte; R105 000 vir verkeerkalmering (spoedbulte) en R100 000 vir skoonmaakprojekte in die wyk.
In Wyk 19 is onder meer R250 000 toegewys vir opleiding vir leerling-en bestuurslisensies; R100 000 vir buurtwagtoerusting; R100 000 vir die opknap van Maiselstraatpark; R100 000 vir skoonmaak en R85 000 vir ’n kringtelevisiekamera (CCTV/LPR).
Buiten die wyksbegroting het die subraad R950 000 toegewys vir bykomende wetstoepassingsbeamptes in Wyk 19.
In Wyk 14, wat Zevenwacht en Jagtershof in Kuilsrivier insluit, is van die groter toewysings in die wyksbegroting R200 000 vir die opknap van die Dennemere-sportterrein en R100 000 vir oefenapparaat in Rusdalpark.
Van der Merwe sê R24 miljoen is in die komende boekjaar begroot vir die wyer Kuilsrivier as deel van die Stad se nie-gemotoriseerde vervoer-projek, wat die bou en opknap van sypaadjies en fietspaaie insluit.
Besoek www.capetown.gov.za/budget vir meer inligting. Kontak Budget.Comments@capetown.gov.za of skakel 0800 212 176 om kommentaar te lewer.





