Sportjoernalis Avril Fillies van Eersterivier veg die pad oop vir vroue

Avril Fillies (regs) ontvang ‘n toekennng van die Wes-Kaapse minister van sport vir die rol wat sy gespeel het in die uitbouing van gemeenskapsport.

Die veteraanjoernalis Avril Fillies is verlede week deur die Wes-Kaapse regering vereer vir haar jare lange werk om die gemeenskap op te hef met die mag van haar pen, asook vir haar vernuf as rugby-afrigter.

Fillies, wat in die volksmond as Auntie Avi of Auntie Boudjies bekend staan, het die toekenning by die Wes-Kaapse sportlegendes-toekenningsgeleentheid van die provinsiale sportminister, Ricardo McKenzie, ontvang. In die oorkonde vir Fillies staan geskryf dat sy die toekenning ontvang “vir die bydrae wat sy gelewer het om sport in die gemeenskap te vorm”.

Fillies sê dit is vir haar ‘n groot voorreg om so vereer te word.

“Die toekenning is nie net myne nie en ek wy dit aan mense wat die afgelope 43 jaar deel van my reis was. Van hulle is reeds oorlede. Hier wil ek spesifiek vir Jacques van Wyk (redakteur van Die Burger Ekstra), my oorlede pa, Antonio de Lange, wyle Aubrey Lategan (mentor as rugbyskrywer), wyle Wessel Seconds (afrigter van die WP-Gouebekerspan), Richard Croy en Archie Johnson (afrigters by Weermag), asook Charles Williams (Springbokkeurder en Junior Springbok) uitsonder. Daar was nog baie ander wat ook rolle gespeel het, maar dis die mense wat my die rugbyskrywer en afrigter gemaak het wat ek vandag is,” sê Fillies.

Loopbaan as sportskrywer

Haar loopbaan het in 1982 by Die Burger Ekstra begin en Van Wyk het haar in 1983 gevra om profiele te skryf oor rugbyspelers wat in die apartheidsjare onder die SA Rugbyfederasie of die SA Rugbyraad van wyle Dok Danie Craven gespeel het.

“Hy het daaraan geglo dat mense graag lees oor ander wat presteer het en dis hoe ek in rugby beland het. Destyds was daar verdeeldheid in die bruin gemeenskap, want die Saru-groep, onder die vaandel van Sacos, het geglo aan “no normal sport in an abnormal society” en het nie teen wit of oorsese spanne gespeel nie. Omdat Die Burger Ekstra en ook Rapport Ekstra hoofsaaklik dekking gegee het aan bruin gemeenskappe en hul nuus, het Van Wyk my gevra om oor ‘federasie’ te skryf, terwyl Jerry Seale oor Saru en Sacos geskryf het. Met rugby-eenwording in 1992 kon ek oor almal en alles skryf soos tot op hede.

“Alles was ook nie net maanskyn en rose nie. Om rugby te skryf was nie maklik vir ‘n vrou en veral een van kleur nie, want rugby is beskou as ‘n manswêreld,” sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article