Sportbeurs by die Hoërskool Durbanville het tiener lewe verander

Damain Titus in aksie vir die Durbies op die atletiekbaan.

Credit: SYSTEM

Die dobbelsteentjies het dalk aanvanklik nie so reg geval vir ’n blinkoog matriekseun van 2022 nie, maar sy vlugvoetigheid op ’n atletiekveld, ’n sportbeurs van die Hoërskool Durbanville en harde werk het vir hom nuwe deure oopgemaak.

Daiman Titus (18), wat verlede jaar in matriek was aan die Hoërskool Durbanville, het met goeie punte en matrikulasievrystelling geslaag. Nou wink ’n blink toekoms as hy eersdaags by die Universiteit van Wes-Kaapland met sy studies in ’n BA-graad in ’n besigheidsrigting in die ekonomiese en bestuurswetenskappe-fakulteit begin.

Sy grootwordjare is gekenmerk deur moeilike omstandighede, waar hy in die Mamre-gemeenskap naby Atlantis gereeld aan geweld en alkoholmisbruik blootgestel is.

“Ek het mense sien baklei en hoe bendes onder mekaar baklei; daar is ook baie alkoholmisbruik en tienerswangerskap,” vertel hy.

Daiman het op laerskool al op die atletiekveld in veral naellope uitgeblink en het sy WP-kleure verwerf.

Dit was juis by ’n WP-atletiekkampioenskap in die Bellville-velodrome waar hy raakgesien is deur Freddie Brooks, hoof van bemarking – en sportontwikkeling van die Hoërskool Durbanville, wat op soek na talent was.

Daiman is ’n sportbeurs aangebied om sy hoërskoolloopbaan in graad 8 as ’n Durbie te begin. Hy het in die koshuis gebly. ”Ek het die eerste naweek snot en trane gehuil toe ek my ouers weer sien. Maar in graad 11 en 12 moes my ouers my soebat om net huis toe te kom,” vertel hy.

Sportbeurs

“Die sportbeurs was ’n groot geleentheid vir my om uit my omstandighede te kom en het geleenthede oor my pad gebring. Ek het myself daar in Mamre in daardie omstandighede sien skoolgaan, maar gelukkig toe kom die Hoërskool Durbanville se oproep,” sê hy.

Hy het veral in die 100m- en 200m-naellope uitgeblink. Verlede jaar het hy ’n puik tweede plek behaal in die 100m by die SA kampioenskap.

“My afrigters, Tashwell Adams en Garth du Preez, het ’n groot rol gespeel,” sê hy. Ook sy onderwyseres in bestuurswetenskap, by wie hy nou ook tydelik tuisgaan, het rigting aan sy lewe gegee, sê hy.

Dis nie net sy ouers, Emelio en Estriuta Titus, wat bars van trots nie, maar die Mamre-gemeenskap ondersteun hom ook.

Toe hy ná die SA-kampioenskap weer by sy ouerhuis in Mamre kom, was daar ’n kabaal in die straat van brullende motorfietse en hy vra toe wat aangaan.

“Dis vir jou, sê my ma toe. Maar ek bly nederig en wil nie eintlik oor my prestasies praat nie.”

Sy raad aan ander is om op hul droom te bly fokus. “As jou ouers jou motiveer, en jy het ’n einddoel in sig van wat jy wil hê, dan moet jy daarop bly fokus. Jy moet al die goed wat jou aandag aftrek, uitskakel, dan sal jy by jou einddoel uitkom,“ sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article