Felicia Jacobs van Kraaifontein en Danelle Snyders van die Strand nadat hulle pas van die Statebondspele in Birmingham teruggevlieg het.


Felicia Jacobs van Kraaifontein, wat Suid-Afrika tot verlede week by die Statebondspele in Birmingham in Engeland verteenwoordig het, sê haar eerste ervaring van die Statebondspele was opwindend en ook oorweldigend.

“Dit was my eerste groot Sewestoernooi en oor die algemeen het ek die toernooi en die spele geniet.

Die wedstryd waarna ek die meeste in Birmingham uitgesien het, was om teen Charlotte Caslick van Australië te speel. Ons is albei skrumskakels, of “sweepers”.

“Sy is ’n baie goeie en ervare speler, maar ek het nie toegelaat dat my bewondering vir haar my spel beïnvloed nie. Ek het net op my spel gefokus, want ek wou net my beste vir die SA span gee. Ek moet erken, ek was opgewonde, maar ook senuweeagtig om teen haar te spel, maar toe die wedstryd begin, het die vlinders verdwyn en het ek net my natuurlike spel gespeel,” sê sy.

In 2017 het sy aan die Hokkaido-sewestoernooi in Japan as lid van die SA ontwikkelingspan deelgeneem en het darem ’n bietjie ervaring gehad van hoe dit is om internasionaal te kan meeding.

Sy is ook ’n lid van die WP se 15’s-span.

“Omdat ons saam met die Blitsbokke by SAS woon, is dit lekker om na hul raad te luister en hulle moedig ons altyd aan wanneer ons op die oefenveld is of wanneer ons aan ’n toernooi gaan deelneem. Toe ek opgeneem is in die vroue-sewesspan, het ek geweet wie die afrigter Paul Delport was en hy het almal vriendelik verwelkom,” sê Jacobs.

Die vroue-blitse is tans op pad om aan die Challenger Series in Chili deel te neem en het op Saterdag 6 Augustus uit Kaapstad vertrek.

“Daarna neem ons deel aan die Sewes-wêreldbekertoernooi die naweek van 9 tot 11 September in Kaapstad, waar ons weer teen die bestes van die wêreld gaan meeding. Dis enige speler se droom om aan ’n wêreldreeks deel te neem en die feit dat dit op tuisbodem aangebied word, maak dit ook ekstra spesiaal. Ek studeer nie op die oomblik nie, want ek fokus nou net op my rugby. As my rugbyspeeldae verby is, sal ek al my afrigtingskursusse voltooi, want ek wil in rugby bly – as afrigter of in enige ander hoedanigheid,” sê sy.

Jacobs is geen groentjie as dit by rugby kom nie; sy het op laerskool begin speel en by die Sekondêre Skool Scottsdene is sy deur Rasheen Marcus aan rugby voorgestel.

“Ek probeer om ’n goeie rolmodel vir die jeug in Kraaifontein, spesifiek Scottsdene, te wees, sodat hulle kan sien dit maak nie saak waarvandaan jy kom nie, jy kan altyd iets in die lewe bereik.

“As ek op toer is, sal die gemeenskap altyd positiewe boodskappe en aanmoedigende woorde stuur en dit is my aansporing om altyd beter te doen. Een van my grootste uitdagings as tiener in Kraaifontein, was om in te pas.

“Omdat jy nog jonk is, wou jy altyd alles doen wat as ‘cool’ beskou word deur ander om deel van ’n groep te wees. Toe ek dit oorkom en besef het dat die sosiale euwels soos dwelms, drank en bendes my rugbyloopbaan gaan raak, het ek net op my rugby begin fokus.

“Die grootste hoogtepunt tot voor die Statebondspele was toe ek in 2017 die eerste keer gekies is om deel van die 15’s-Springbokspan te word; dit het soos ’n droom gevoel. My blydskap oor daai insluiting was onbeskryflik en ek het dieselfde gevoel toe ek in die sewesspan opgeneem is. Jy kan dit nie eintlik beskryf nie, want dit voel jy droom en hier word jou droom nou bewaarheid. Wanneer ek nie met rugby besig is nie, luister ek na musiek.

“My raad wat ek altyd gee aan jongmense wat meer wil weet oor my rugbyloopbaan, is dat jy nie moet toelaat dat jou omstandighede bepaal wat jy eendag in jou lewe wil bereik of word nie. “Stel doelwitte en probeer elkeen een op ’n slag bereik,” sê Jacobs.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article