Arthur Reichhardt

‘n Lid van die NTK-rugbyklub in Parow-Noord het die afglope naweek ´n reuse mylpaal behaal – Arthur “Mr Manny” Reichhardt is nou reeds vir 50 wedstryde die eerste span se bestuurder, en is onlangs deur sy mede-spanlede beskryf as lojaal, passievol en iemand wat altyd die span aanmoedig.

Die NTK-rugbyspan het op Saterdag 16 Augustus teen die Primrose-rugbyklub te staan gekom.

Reichhardt sê dit neem ´n speler, afrigter of bestuurder gemiddeld so vier jaar om dié mylpaal te bereik. “Ons is vanjaar geseënd dat drie mense hul 50ste gehaal het,” sê hy.

Sy storie

Reichhardt het vertel dat hy van 2009 tot 2019 vir 11 jaar verbonde was aan die Goodwood-rugbyklub. Hier het hy onder meer afgerig, in die komitee gedien en as spanbestuurder opgetree, sowel as die klub verteenwoordig by die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU). “Ek het by die WPRU se prysuitdeling in 2019 my WP-kleure ontvang vir vyf jaar diens as verteenwoordiger namens die klub, iets wat vir my ´n geweldige groot oomblik was. Goodwood sal altyd diep in my hart wees, en ek is steeds op ´n goeie voet met die klub,” sê hy.

Hy het in 2020 by die NTK-rugbyklub in Parow-Noord aangesluit ná gesprekke met bestuurslede van die klub. Die aanbod was om die eerste spanbestuurder te word, asook die klub se verteenwoordiger te wees sowel as om in die komitee te dien.

“Die uitdaging was vir my ook gepas aangesien die klub in die Super A-liga meeding en ek graag die ondervinding wou opdoen van hoe dit in ´n Super A-liga-opset is. Die tyd was dus reg vir ´n skuif en ek wou dieper en groter gaan. Ek is sedert 2020 die eerste span se bestuurder en is nou al ses jaar lank by die NTK-rugbyklub,” sê hy.

Hy sê die Covid-19-pandemie het ongelukkig die span belemmer om in 2020, asook 2021, rugby te speel. As dit nie vir daardie twee jare was nie, sou hy vandag meer as 70 toetse op sy kerfstok gehad het, meen hy. “Daardie twee jaar was vir my ´n laagtepunt, maar in daai twee jaar het ek die klub se geskiedenis opgebou in ons klubhuis. Met my koms was daar amper niks, en nou is ons mure vol trotse geskiedenis – 23 Springbokke wat vir die klub gespeel het, se foto’s pryk lewensgroot op ons mure asook nog vele meer geskiedenis oor die klub,” sê Reichhardt.

Hoogtepunte

Van 2022 tot 2025 het die span voluit gespeel, maar hier en daar is wedstryde misgeloop as gevolg van ander verpligtinge, sê hy. “Ek was geseënd om deur die unie verkies te word om as skakelbeampte op te tree onder meer by die internasionale Wêreldbeker-sewes en die Challenger Cup 7s oor die tydperk, sê hy. Reichhardt sê om by internasionale spanne betrokke te wees was vir hom ´n reuse-hoogtepunt. “Ek het dus sekere wedstryde misgeloop by die klub as gevolg hiervan.”

Ander hoogtepunte vir hom in die NTK-rugbyklub is die mense wat hy ontmoet het, en vriendskappe en bande wat hy gevorm het, nie net by die klub nie, maar ook ander klubs. “Ek het geweldig baie vriende in hierdie kringe. Dit het nie altyd wen-gewys goedgegaan met ons nie, maar wentoernooie wat vir my uitstaaan is die een teen Brackenfell-rugbyklub wat ons in swaar reën gewen het. Verlede naweek teen my ou klub Goodwood was ook spesiaal.”

Die NTK-rugbklub se eerste-span.

Van die lekkerste plekke om te speel, sê hy, sluit in die Danie Craven-stadion teen die Maties, Villagers, Hamilton en nog vele om te noem. “Die moeilikste plekke om te wen is die SK Walmers en Valsbaai. “Maar die beste plek bly maar tuis vir my.”

Reichhardt is getroud met Joni en hulle het ´n eenjarige seuntjie.

“Joni is die grootste motiveerder en ondersteuner, asook ons seun. Ek werk dus volstoom, ter wille van hulle. Dit is my dryfkrag,” sê Reichhardt.

Hy sê hy het deur rugby baie geleer in die lewe en geleenthede gekry. “Jy leer ook baie oor jouself. Dis nie altyd ‘n maklike pad nie, en soms voel ‘n mens baie alleen. Dit is ‘n geweldige opoffering om Maandae, Dinsdae en Donderdae te oefen en op ‘n Saterdag te speel. Dit neem baie gesinstyd in beslag en dis vir my die swaarste en moeilikste van die storie, om weg van my vrou en kind te wees. Maar, dan verstaan my vrou ook ons doelwitte, en die redes daaragter, so sy ondersteun my ten volle.”

Drome

Hy sê rugby het vir hom baie gegee, maar ook geneem. “Ek is geweldig dankbaar en dit is in my bloed. Ek is ‘n ware dienaar van die spel en doen dit met passie en oorgawe,” sê hy.

Sy grootste droom is steeds om eendag spanbestuurder vir die WP te word. “Ek wil ook die voorste spanbestuurder in klubrugby wees, dis iets wat jou spelers bepaal, seker deur hoe jy hulle behandel en wat jy vir hulle doen,” meen hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article