Ek het my spaargeld in 2018 gebruik om sonpanele deur ’n welbekende maatskappy te laat installeer, met die vertroue dat hulle alles wetlik sal doen.
In September 2020 kry ek ’n brief van die Stad Kaapstad om binne twee weke die stelsel te registreer of my krag sal afgesny en ’n boete van R8 100 gehef word. Ek het in daardie stadium in Durban gewerk en net kortliks huis toe gevlieg. In dié tyd is ons salarisse weens Covid-19 met 25% gesny. Ek is ’n alleen-broodwinner.
Ek het ’n voormalige elektrisiën van die munisipaliteit genader om my te help om my sonkragstelsel teen R4 500 te registreer. Hy het my verseker ek sal nie ’n boete hoef te betaal nie.
Ek het self ook drie verskillende kere na die Bloemhof-munisipaliteit gegaan vir hulp, maar daar was niemand om my te help nie; almal was weens Covid-19 nie beskikbaar nie. Ek het ook vele e-posse gestuur vir meer tyd en versagting.
My ou meter is toe vervang met ’n voorafbetaalde meter en my stelsel geregistreer en goedgekeur.
In Januarie 2021 kry ek weer brief met ’n boete van R8 100 en ek moet dit binne twee weke betaal, want die Stad Kaapstad beywer hom om minderbevoorregtes te help en ek moet my rekening ten volle betaal. My sonkragstelsel is nou ’n wit olifant.




