Boodskappe van hoop dat ‘n inwoner van Richwood nog lewe en veilig sal terugkeer huis toe nadat hy ‘n week gelede vermis geraak het, stroom steeds in op sosiale media.
Die vermiste, Malcolm Pather (41), het ‘n week gelede verdwyn en is laas by sy woning in Richwood gewaar.
AO Joseph Swartbooi, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê ‘n ondersoek na ‘n vermiste persoon is verlede Dinsdag 15 Julie om middernag geregistreer.
“Volgens die verslae het die vermiste sy woning in Rooiheuwelweg by die De Aan-Zicht-leefstyllandgoed in Richwood, Sondagaand (13 Julie) verlaat en nie weer teruggekeer nie. Sy motor is op Woensdag 16 Julie in Mitchells Plain verlate gevind,” sê Swartbooi.
Pather het glo in sy blou BMW 1.20D die huis verlaat.
Die polisie in Bothasig volg alle leidrade op in die hoop om ‘n deurbraak te maak, sê Swartbooi.
Die nie-regeringsorganisasie Missing Adult Alert deel ook sedert sy verdwyning inligting via hul sosialemedia-blad.
Die polisie versoek enigiemand met inligting om sy Stop Misdaad-nommer, 08600 10111, te skakel, of die Bothasig-polisie by 021 559 9415 of 021 559 9400.





