Volgens die Stad Kaapstad het twee jaar se noodtoestand weens die pandemie en die verwante ekonomiese impak daarvan tot ’n ongekende toename in haweloses in die stad gelei. Om mense op sypaadjies, in parke, padreserwes en ander openbare plekke te sien slaap, het ’n meer algemene gesig geword.

Volgens die Stad vereis die buitengewone situasie dus ook dat buitengewone stappe gedoen sal moet word om te kan verseker openbare plekke is toeganklik vir die algemene publiek se gebruik.

Niemand behoort op straat in onveilige, ongesonde en onwaardige omstandighede te leef nie.

Die Stad Kaapstad, wat sê hy is die enigste stedelike munisipaliteit met ’n spesifieke maatskaplike begroting om mense van die straat af te kry, bestee jaarliks sowat R65 miljoen vir die doel.

Die Stad het in die aangepaste begroting in Januarie ’n bykomende R10 miljoen geprioritiseer om beddens in skuilings vir die komende winterseisoen te vermeerder. Die finansiering word na nie-regeringsorganisasies, wat skuilings bedryf, versprei.

Volgens die Stad sal sy reeds bestaande skuilings, die sogenaamde Safe Spaces, uitgebrei word. Die proses begin by die een in die middestad, waarna nog soortgelyke skuilings in ander dele van die metro geskep sal word. Dit sal in die komende en mediumtermynbegrotings geprioritiseer word, sê die Stad.

Die Safe Spaces-model bied skuiling, badkamergeriewe, twee etes per dag, toegang tot ’n maatskaplike werker op die perseel, persoonlike ontwikkelingsbeplanning, hulp met identiteitsdokumente en maatskaplike toelaes, toegang tot rehabilitasie vir middelafhanklikheid, aanleer van vaardighede, hulp om werk te vind en tydelike werksgeleenthede deur die Stad se uitgebreide openbare werke-program.

Die Stad se herintegrasie-eenheid en vroeëkinderontwikkelingsbeamptes doen gewoonlik die verwysings vir plasing in die skuilings.

Beamptes is daagliks op straat om met haweloses oor moontlike oplossings vir hul situasie te gesels.

Dit sluit in om hulle met familie te herenig; maatskaplike ondersteuning om tydelike hindernisse wat mense op straat hou, te oorkom; alternatiewe verblyf by ’n Safe Space of ander skuilings; of toegang tot ontwikkelingsprogramme om selfonderhoudend te word.

Die Stad se aangepaste verordeninge wat betrekking het op strate, openbare plekke en geraas, vereis dat alternatiewe verblyf aan haweloses gebied moet word. Om in ’n openbare plek te slaap of oornag te kampeer, is nie meer outomaties ’n oortreding as so iemand geen keuse het nie.

Die aanpassing aan die verordening dekriminaliseer die gedrag as geen alternatief beskikbaar is nie en verseker volgens die Stad dat intervensie van hul beamptes daarop gemik is om mense te help om van die straat af te kom. “Slegs nadat aanbiedinge geweier is, sal die reg sy gang gaan.”

Volgens die Stad sal optrede teenoor mense wat in openbare plekke slaap, deur vyf beginsels ingevolge die aangepaste verordeninge gelei word, naamlik:

  • Geen mens behoort op straat te leef nie. Om volhoubare oplossings te aanvaar, is die beste opsie om mense se waardigheid, gesondheid en welstand te verseker;
  • Stedelike openbare ruimtes dien belangrike sosiale, gemeenskaplike en ekonomiese doeleindes en moet oop en toeganklik vir almal wees. Geen mens het die reg om ’n openbare plek vir homself toe te eien en voortdurend alternatiewe skuiling en maatskaplike hulp van die hand te wys nie;
  • Dit is nie ’n misdaad om op straat te slaap as iemand geen keuse het nie. Slegs nadat skuiling of ander maatskaplike hulp geweier is, moet die reg sy beloop neem as laaste uitweg;
  • Die Stad moedig howe en aanklaers aan om te verseker rehabilitasie geniet voorkeur bo strafmaatreëls soos boetes of tronkstraf, sover dit regtens moontlik is.
    Die proses wat gevolg sal word as iemand oornag slaap of kampeer in ’n openbare plek:
  • Eerstens sal so iemand besoek word om ’n evaluering te doen. Dit sluit onder meer in redes hoekom hulle op straat is, fisieke en geestelike gesondheid, lewensomstandighede en bron van inkomste. Daarna sal hulle verwys word na ’n skuiling of die Stad se Safe Space.
  • Indien hulp geweier word, volg ’n gesamentlike optrede waartydens skuiling weer aangebied sal word en enige informele strukture afgebreek word.
  • As skuiling dan steeds geweier word, word ’n voldoeningskennisgewing gegee wat die stappe uiteensit wat gevolg moet word met ’n spertyd en die gevolge indien nie gehoor gegee word nie.
  • As steeds nie gehoor gegee word nie, kan kennis gegee word om in die hof te verskyn. Die aanbod van skuiling bly egter steeds beskikbaar.
  • As so iemand versuim om in die hof te verskyn, kan ’n lasbrief vir sy of haar inhegtenisname uitgereik word.
  • Die beslissing is dan in die hande van die hof.
  • Die Stad se verordeninge (streets by-law) skakel nie die bepaling uit dat ’n hofbevel verkry moet word om ’n struktuur, wat as iemand se permanente verblyf beskou kan word, te kan verwyder nie – soos bepaal deur die Wet op Voorkoming van Onregmatige Uitsetting en Onregmatige Okkupasie van Grond.
  • Die Stad moet in sulke gevalle binne die reg optree en die nodige hofbevel kry, asook in soverre dit billik en regverdig deur die hof bepaal word, alternatiewe verblyf verseker.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article