’n Slimkop van Belhar het die gemeenskap se hulp nodig om op ’n opvoedkundige toer na Amerika te gaan.
Cleo Abrahams, ’n 14-jarige leerder aan die Hoërskool Tygerberg, is as gevolg van haar uitsonderlike akademiese prestasies gekies om een van drie lande te besoek en sy het besluit om Amerika toe te gaan.
Vir die voorreg om te gaan, moet Cleo en haar ouers ’n hele R80 000 insamel.
Harriet Abrahams, Cleo se ma, sê sy het op Amerika besluit omdat die goeie universiteite vir haar aanloklik is.
“Sy is vanjaar in gr. 9 en handhaaf ’n gemiddelde in haar vakke van 90,6%. Ons beskou hierdie as ’n geleentheid om haar horisonne te verbreed en ander kulture te leer ken,” sê Abrahams.
Hulle het reeds verskeie geldinsamelingsprojekte van stapel gestuur, wat insluit ’n worsrolletjie-verkoping, ’n lootjie vir ’n haaryster (flat iron) en gaan eersdaags ’n vrouetee hou.
Cleo sê sy is opgewonde om na Amerika te gaan. “Ek is gereed om enige uitdaging aan te pak en die beste te maak van geleenthede wat na my kant toe kom.
“Solank ek my geloof in die Here behou, is ek seker daarvan dat enigiets moontlik is. Soos Apostel Paulus in die Bybel ons in Efesiërs 5 vers 16 aanmoedig om van alle geleenthede gebruik te maak, so wil ek van elke liewe geleentheid gebruik maak,” sê Cleo.
Die eerste paaiement van R16 000 vir die oorsese toer moes verlede week betaal word.
Daarna moet betalings op 30 Maart, 30 April en 30 Mei gedoen word. Die laaste betaling moet teen 31 Julie gemaak word.
“Ons glo dat ons alles sal bybring voor die spertye. As daar mense is wat ons kan help om Cleo in Amerika te kry, sal ons dit waardeer,” sê Harriet.





