Die Nasionale Toneelspelkompetisie het Maandagaand by die Adam Small-teater in Stellenbosch tydens ’n glansgeselligheid hul vere reggeskud vir dié kompetisie van 2024.
Die Hoërskool Bellville, aanbieders van die kompetisie, was aan stuur van die aand waar borge, oud en nuut, kon skouer skuur en saam na ’n opwindende nuwe jaar gevul met jong teatertalent kan uitsien.
Volgens Wickus Zerwick, organiseerder, is dit nodig om hul lojale, asook nuwe borge, die erkenning te gee vir hul bydrae tot die sukses van die kompetisie, wat in 2024 ’n nuwe tuiste inneem. Daar kon nie ’n beter plek as die Adam Small-teater langs die lowergroen akkerlaning van Victoriastraat in Stellenbosch vir dié kompetisie wees nie.
Hoërskoolleerders van reg oor Suid-Afrika en Namibië word uitgenooi om in die 22ste bestaansjaar van die kompetisie saam opgewonde te raak oor die ongelooflike pryse en geleenthede wat gebied word.
Die inskrywings is nou amptelik oop en sluit op 9 Februarie aanstaande jaar. Uitdunne sal in Maart in vier verskillende streke reg oor Suid-Afrika afskop. Gevolglik sal 55 deelnemers geïdentifiseer word om aan die eindstryd op 29, 30 April en 1 Mei in Stellenbosch deel te neem.
Maak seker jy mis nie hierdie goue geleentheid nie deur vandag nog in te skryf.
Besoek die die Nasionale Toneelspelkompetisie se webblad by toneelspelkompetisie.co.za om in te skryf.





