Onderwysers, leerders en gemeenskapsorganisasies het verlede Donderdag by die Hoërskool Fairdale in Silversands byeengekom om die lewe van twee van hul leerders te gedenk.
Simzukise Mtoti (18), ’n gr. 12-leerder by dié skool, is verlede week in ’n bakleiery met ’n mes doodgesteek. Drie mense is reeds in verband met sy moord in hegtenis geneem en het reeds in die hof verskyn.
’n Ander leerder, Thandokazi Nkubu, is ook onlangs dood, maar dit is nie seker wat die rede vir haar heengaan was nie.
Pakamisa Keswa, die voorsitter van die plaaslike belastingbetalersvereniging, sê dit was hartverskeurend om ’n diens by te woon van twee jongmense wat gesterf het. “Hul hele lewe het nog voor hulle gelê, maar nou is hulle net weg. Die hele gemeenskap van Silversands betreur hul ontydige heengaan,” sê Keswa.
Ursula van Rhyn, die voorsitter van die plaaslike “walking bus”, sê Mtoti was ’n vrolike kind.
“Die oggend voor sy dood het hy nog met my gespot en gesê ek kan sy sak deursoek, want daar is niks in nie. Ons staan soggens by die skool se hekke om te kyk dat leerders nie wapens of dwelms inneem nie, en sommige is soms krapperig, maar hy was altyd vriendelik,” sê Van Rhyn.
Volgens Van Rhyn het die steekvoorval plaasgevind terwyl hy en ander lede van hul groep se aandag elders was. “ ’n Ander leerder het by die ingang van die skool ineengestort en ons het ons na haar gehaas. Sy was siek, en toe ons met haar besig was, het ons gesien verder aan is ’n rumoer. Toe ons daar kom, was hy reeds gesteek. Hy het nog aan die een leerder se romp vasgehou en in Xhosa gesê hy wou nie gaan nie.
“Hy het egter te veel bloed verloor,” sê Van Rhyn.





