’n Inbraak en vandalisme by die Laerskool Tuscany Glen het veroorsaak dat leerders vir ’n volle week geen toegang tot toiletgeriewe gehad het nie.
Boewe het verlede week by die skool ingebreek en groot verwoesting gesaai. Hulle het pype, elektriese drade en alles weggedra wat hulle hul hande op kon lê.
Rashied Hoosain, ’n ouer van ’n leerder by die skool en lid van die plaaslike buurtwag en gemeenskapspolisiëringsforum, sê verskeie belanghebbendes het ingespring om die skool te beveilig.
“Die skool se alarmstelsel is ’n paar maande gelede in ’n ander inbraak beskadig. Dit was dus vir die boewe hierdie keer makliker om in te kom, maar wat erger is, is dat die versekering nie die skool se eise wil goedkeur nie omdat die alarm buite werking was,” sê Hoosain.
Hoosain sê die skool kon egter nie wag dat die alarmstelsel eendag reggemaak word nie en hulle het ’n noodroep uitgestuur.
“Ek besit ’n gemengde gevegskunsklub en het van die senior lede gevra of hulle bereid is om te patrolleer. Hulle het ingestem om dit sonder betaling te doen. Kort daarna het ’n sekerheidsmaatskappy in die omgewing, World Class Security, aangebied om vir twee maande die skool gratis op te pas.
“Ons het ook pype en krane geskenk gekry, maar die mannekrag het ontbreek om dit aan te sit. Ons het ’n beroep om hulp gedoen en so kon ons ook mense kry wat bereid was om te help.
“Ek is verheug dat so baie mense ingespring het om die skool te help en ek hoop dat ons hierdie momentum kan gebruik om voort te bou.
“As ons almal saamstaan hoef hierdie verfoeilike dade nie weer by die skool te gebeur nie,” sê Hoosain.
Volgens hom is ’n ander gevolg van die inbraak dat skole in die omgewing nou saamstaan.
“Ander skole het kontak gemaak, want hulle ondervind dieselfde probleme. Ons kan nou mekaar op verskillende maniere ondersteun. Een van die verdagtes is ook reeds in hegtenis geneem en van die gesteelde goedere is teruggevind,” sê hy.
Intussen het onderwysers sedert die inbraak elke dag voor die skool betoog om die aandag daarop te vestig dat die gemeenskap die skool moet beskerm.
Indien jy daarin belangstel om ’n bydrae te maak om die skool weer tot sy vorige glorie te herstel, bel Hoosain by 074 429 9009.





