Leanne Stellenberg en Tyren Arendse saam met leerders van die Laerskool Irista wat skoolskoene en pakkies met skryfbehoeftes en toiletware ontvang het.FOTO’S: Carina Roux


Skoolskoene en versorgingspakkies is verlede Vrydag aan twee groepe leerders van onderskeidelik die Laerskool Irista en die Laerskool Kalkfontein oorhandig danksy ’n voormalige sokkerspeler en handelsmerkambassadeur vir MTN.

Tyren Arendse, voormalige speler van Orlando Pirates en Santos, was Vrydag saam met Leanne Stellenberg, ’n gemeenskapswerker en stigter van die organisasie The Association for Healing through Arts (AHA), by die Laerskool Irista om nuwe skoolskoene en pakkies met skryfbehoeftes en toiletware aan 20 leerders te oorhandig.

’n Donasie is ook aan die “cheerleader”-groep van die skool gemaak sodat daar vir hulle uniforms gemaak kan word. Die inisiatief is verlede jaar as ’n buitemuurse aktiwiteit deur Elzonia Le Vack, ’n onderwyser by Irista, begin.

Arendse het aan die leerders vertel dat hy ’n ambassadeur vir die MTN8-sokkertoernooi is waarin die agt topspanne van die professionele sokkerliga (PSL) meeding.

MTN stel R40 000 aan elk van die agt ambassadeurs (wat elkeen ’n span verteenwoordig) beskikbaar, waarvan R20 000 in ’n poel gaan vir “The Last Legend Standing” – die ambassadeur wie se span die toernooi wen.

Die ambassadeur van die wenspan kry dus R180 000 en die ander ambassadeurs elkeen R20 000, wat dan teruggeploeg kan word in hul gemeenskap vir projekte van hul keuse.

Leerders van die Laerskool Kalkfontein met hul skoene en versorgingspakkies.

Terugploeg

Arendse, wat in Blackheath woon, sê hy het met die R20 000 van MTN wat hy ontvang het besluit om na Stellenberg en haar organisasie uit te reik.

“Ek weet sy doen fantastiese werk in die gemeenskap. Hierdie is als deel van die toernooi en MTN se uitreik na gemeenskappe om te verseker dat hulle ’n verskil in gemeenskappe kan maak.”

Arendse het Stellenberg bedank vir haar rol en gesê dit is maar ’n klein bydrae van sy kant af om ’n verskil te probeer maak. “Dankie ook aan die skool en die hoof wat ons toegelaat het om hier te wees.”

Stellenberg het gesê nadat die skool haar bewus gemaak het van hul “cheerleaders”, is besluit dat die groep by die projek moet baat vind, “sodat die meisies kan sien hoe belangrik kuns en kultuur is”.

“Ongelukkig is die geld beperk en kon ons net ’n paar leerders van die twee skole kies om skoolskoene, nodige skryfbehoeftes en ’n versorgingspakkie te ontvang.”

Van Irista se ‘’cheerleaders’’ het Vrydag by die oorhandiging opgetree. Die inisiatief is verlede jaar deur Elzonia Le Vack, onderwyser, begin en sowat 60 leerders neem gereeld deel.

Cassidy Solomons ontvang ’n paar nuwe skoolskoene en ’n versorgingspakkie van Leanne Stellenberg by die Laerskool Kalkfontein.

Goeie higiëne

Stellenberg het gesê dit is belangrik vir kinders om goeie persoonlike higiëne toe te pas. Buiten skryfbehoeftes was daar in elke pakkie ’n waslap, tandepasta, ’n tandeborsel en seep.

Na afloop van die verrigtinge by Irista het nog ’n paar leerders Stellenberg genader met die versoek vir skoene.

Stellenberg het hul name en skoengroottes neergeskryf en aangedui dat sy sal help.

Arendse moes ’n vlug Johannesburg toe haal en kon nie die oorhandiging by die Laerskool Kalkfontein bywoon nie.

Die vier hoofleerders van Kalkfontein het Stellenberg flink bygestaan met die uitdeel van die skenkings.

Kontak Leanne Stellenberg by 082 371 4252 of leannes@polka.co.za as jy wil help met donasies.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article