As dit nie vir die Covid-19-pandemie en streng inperking was nie, sou sy nooit so goed presteer het nie, sê die naasbeste matriekpresteerder in die land.

Trouens, Simoné Wessels was in gr. 10 nog nie eens onder die top-twee akademiese leerders in haar graad nie.

Sy was toe nog rondom vierde of vyfde in haar graad.

“Ek het altyd goed gevaar,” gee sy toe, maar toe haar buitemuurse aktiwiteite weens die streng inperking gestaak is, kon sy net op akademie fokus en het sy vir die eerste keer besef wat haar vermoëns is.

En daar was geen tekort aan buitemuurse aktiwiteite nie voor die pandemie nie.

Simoné, wat aan die Hoërskool Stellenberg gematrikuleer het, het in haar gr. 10-jaar hokkie vir die Westelike Provinsie gespeel. Sy het ook klavier- en vioolklasse geneem, tennis gespeel, perd gery en atletiek beoefen.

Toe die pandemie in 2020 tref, was dit vir haar swaar. Sy het dit gemis om vriende en onderwysers te sien en om skool toe te gaan. Haar punte het egter stelselmatig gestyg tot sy aan die einde van daardie gr. 11-jaar die tweede akademiese posisie in haar graad behaal het.

In matriek het sy nie net in haar graad die voortou geneem nie, sy het sommer 897 162 ander kandidate uitgestof om die naasbeste matrikulant in die land te wees.

“Ek is baie bevoorreg,” sê sy beskeie.

Sy het sewe vakke gehad: Afrikaans, Engels eerste addisionele taal, lewensoriëntering, rekeningkunde, besigheidstudies, fisiese wetenskap en wiskunde.

Toe sy Vrydag haar matriekuitslae by die skool gaan haal het, het sy kort tevore van die lughawe gekom nadat sy die vorige aand in Johannesburg ’n geleentheid van die departement van basiese onderwys (DBE) bygewoon het.

“Ek was baie verbaas,” sê sy oor die aankondiging deur minister Angie Motshekga oor haar tweede plek.

Simoné Wessels is verlede week as die naasbeste topmatriekpresteerder van 2021 in kwintiel 5-skole in Suid-Afrika aangewys. Simoné, wat aan die Hoërskool Stellenberg gematrikuleer het, het haar uitslae Vrydag by die skool ontvang, tesame met ’n geskenkpak van die skool. By haar is haar ouers, Bennie en Charné (links), en die skoolhoof, Yolandé Havinga. FOTO: Riana joubert

Sy het besef sy moes iewers in die top-30 wees omdat hulle na die geleentheid genooi is, maar nie só goed nie.

Haar ouers, Bennie, ’n aktuaris, en Charné, was net so uit die veld uit geslaan oor haar prestasie.

Bennie sê hy het wel gedink sy kon baie goed vaar in matriek. “Sy het die vermoë om op die regte tyd te peak.”

Charné stem saam. “Sy werk baie hard. Wat sy beplan vir die dag, dit doen sy.”

Simoné het ook twee broers, Myburgh (15), wat in gr. 10 aan die Hoërskool Stellenberg is, en Barend (11), wat in gr. 6 aan die Laerskool Gene Louw is, waar sy ook was.

Albei is kranige sportmanne.

Sy sê haar resep vir sukses sluit selfdissipline en deursettingsvermoë in. Haar raad aan ander is om aan hulself te glo. “Streef jou drome na.”

Yolandé Havinga, hoof van die Hoërskool Stellenberg, het gesê sy is ’n ambassadeur in elke opsig. “Simoné se ywer, uithouvermoë en harde werk is voorwaar eienskappe waarop die Hoërskool Stellenberg trots is.

“Om landswyd, uit al die kwintiel 5-skole, ’n tweede plek as toppresteerder te behaal, is ’n prestasie wat ’n mens werklik woordeloos laat. Vlieg hoog, Simoné! Hoërskool Stellenberg is trots op jou!”

Simoné is baie opgewonde om vanjaar BRek by die Universiteit Stellenbosch te gaan studeer. Sy gaan in Nerina-koshuis wees en sê sy beplan om baie meer gebalanseerd te lewe en minder op haar akademie te fokus.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article