Woensdag was daar al 94 dae aaneen beurtkrag toegepas. Foto: Pixabay


Inwoners van Silversands het Sondag net voor 22:00 gejubel toe hulle vir die eerste keer sedert verlede Woensdag weer krag gehad het.

Die krag het Woensdag ingevolge die beurtkragskedule afgegaan en nooit weer aangegaan nie. Inwoners was al so gefrustreerd dat sommige al teen Vrydag paaie probeer versper het. Baie moes op Moedersdag vuur maak om kos vir hul gesin te kook.

Volgens Sharon Cookson, ’n inwoner van Silversands, het die kragonderbreking ’n groot invloed op hul gesin gehad. “My broer is blind en my ma is ’n bejaarde wat spesiale sorg benodig. In watter normale land kan mense vir vyf dae sonder elektrisiteit wees, sonder dat daar met hulle gekommuni­keer word?” wou Cookson wees.

Volgens hom is dit die tweede keer dat die krag nie weer aangaan ná beurtkrag nie. “Dit blyk dat vandale die kabels steel en groot skade aanrig. Het niemand nog ooit gedink dat die substasies beskerm moet word nie? Iets so waardevol soos ’n substasie moet beskerm word,” sê sy.

Mzixolo Mbongwana, nog ’n inwoner van Silversands, sê die situasie het ’n wrang smaak in sy mond gelos.

“’n Mens voel so magteloos as sulke goed gebeur. Jy kan nie eens vir jou kinders verduidelik hoekom die krag nie aangaan nie. Ons lewe word deur beurtkrag beheer en ons kan dalk nog daar om werk, maar wanneer jy nie weet wanneer die krag weer aangaan nie, wat moet jy doen? Mense se kos is verrot en met alles wat so duur word, hoe gaan hulle die kos vervang?” wil hy weet.

Mbongwana sê hy is nie hoopvol dat dinge binnekort gaan verbeter nie.

“Hoeveel keer moet die kabels nog gesteel word? Ek waarborg jou dat dit binnekort weer gaan gebeur,” sê hy.

Intussen wag inwoners nog om te weet hoekom hulle vyf dae vir krag moes wag.

Mzameki Sibunzi, plaaslike proporsionele raadslid, het bevestig dat die krag weens kabeldiefstal af was.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article