Die twee kinders wat verlede week in hul ouerhuis doodgebrand het, is die afgelope naweek begrawe.
Xache (5) en Jaune-Ray Weideman (4) het gesterf toe hul huis in Bishop Lavis na bewering met ’n petrolbom gegooi is. Die broers was in die huis vasgekeer terwyl alles rondom hulle uitgebrand het.
Volgens ’n bron is die ma, Chenay Engelbrecht, en die kinders se stiefpa vroeër gedreig deur mense bekend aan hulle.
Graham Lindhorst van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum sê hoewel Saterdag se begrafnis hartseer was, het dit ook gewys dat die gemeenskap kan saamstaan.
“Honderde mense het by die Baruch-Haba-Christensentrum in Bishop Lavis saamgetrek om die kinders se lewens te herdenk. Dit was ’n bewys dat almal saamstem dat hier verandering in die dorp moet plaasvind. Dat hulle glo dat dit wat hier gebeur het nooit weer sal gebeur nie,” sê Lindhorst.
Volgens Lindhorst het verskeie hooggeplaastes die diens bygewoon.
“Eerw. Chris Nissen van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie gaan saam met my die druk op die polisie hou. Die gemeenskap wil weet hoekom twee onskuldige kinders so afskuwelik moes sterf. As hulle vermoor is, moet die skuldiges aan die pen ry en sommer gou ook,” sê Lindhorst.
Lindhorst sê dit is algemene kennis dat die vermeende brandstigters aan die ouers bekend is en dat hul name aan die polisie bekend is.
“Dit behoort die ondersoek vinnig te laat verloop. Niemand is nog in hegtenis geneem nie en dit is my verbasend,” sê hy.
Sers. Samantha Adonis, polisiewoordvoerder, sê niemand is nog weens die voorval in hegtenis geneem nie.





