Seun ontslaan ná hy en stiefma 5 m vanaf pretrit in Bellville val

FunlandSA het hierdie foto verlede week op Facebook gedeel wat wys hoe hulle pretritte by die terrein by die Laerskool Bellpark opstel. In die agtergrond is die Groot Wiel.


Die seun (6) wat saam met sy stiefma om en by 5 m ver van ’n pretrit in Bellville geval het, is ontslaan.

Die stiefma het egter ’n rugfraktuur en gaan na verwagting tot volgende week in die hospitaal bly.

Die voorval het Maandag omstreeks 17:30 by die pretpark van Funland Amusements SA gebeur wat op die terrein van die Laerskool Bellpark aangebied word.

Die vrou en seun het op die Groot Wiel-pretrit gery toe die voorval plaasgevind het.

Luidens ’n berig op Netwerk24 het dit vir ander gelyk of die seun se voet aan die raamwerk vasgehaak het waarna die stoel waarin hulle was gekantel het.

Omdat dit ’n openbare vakansiedag was, was die ritte, soos oor naweke, vir die publiek oop.

Die skool het die voorval bevestig en in ’n brief aan ouers gesê niemand van die skool was beseer nie en dat Funland verantwoordelikheid vir besoekers geneem het.

Die voorval is by die polisie aangemeld, sowel as by die Stad Kaapstad, wat ’n permit uitgereik het.

“Die skool kan nie bespiegel oor wat gebeur het nie, maar die voorlopige bevindinge is dat dit nie as gevolg van onveilige of stukkende masjienerie gebeur het nie,” lui die verklaring deur skoolhoof Pierro Louw.

“Al die ritte is deur ’n ingenieur veilig verklaar voordat dit Vrydag in gebruik geneem is.”

Henriëtte Pretorius, bemarkingsbestuurder by Funland SA, sê hulle wag vir al die verslae en sal daarna meer inligting bekend maak.

Die spesifieke pretrit is intussen gesluit. Die res van die fees sal tot die naweek gehou word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article