’n Twaalfjarige seun wat verlede week vanuit sy ouerhuis in Camelot verdwyn het, is ongedeerd gevind.

Ebrahim Sawant, wyksraadslid, het Woensdag 18 Mei versoeke na buurtwagte en ander lede van die gemeenskap gerig om by ’n sportveld in die buurt bymekaar te kom om te help soek.

Die seun het die vorige dag, toe hy verdwyn het, blykbaar nie skool toe gegaan nie omdat hy verkouerig was.

“Die ouers en bure het deur die nag na hom gesoek. Ons het toe 10:00 (Woensdag) ’n gesamentlike soektog begin. Ek het alle naburige veiligheidstrukture gebel om te kom help.

“Die Stad se wetstoepassers het onmiddellik met twee spanne gereageer, terwyl ons op die metropolisie se honde-eenheid en die polisie gewag het,” sê Sawant.

“Die soektog het om 12:00 na nabygeleë bosse beweeg terwyl die wetstoepassingsbeamptes met hul voertuie rondom die buitenste omtrek beweeg het.”

Sawant sê die beamptes het omstreeks 12:30 op die seun afgekom.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article