Altesaam ses hoogsmoderne broeikaste vir babatjies wat prematuur gebore word, is Donderdag aan die Tygerberg-hospitaal in Parow, Kaapstad se neonatale- en pediatriese-eenheid geskenk.
Die Dräger Isolette 8000 Plus-broeikaste kos gesametlik sowat R1,7 miljoen en is moontlik gemaak deur privaat-skenkers, sê Louise Theron, uitvoerende hoof van die Tygerberg-hospitaal Kindertrust, wat dié skenking behartig het.
Die trust se voorsitter, prof Pierre Goussard, het die broeikaste aan prof Lizelle van Wyk, ‘n neotoloog, oorhandig. Van Wyk het die trust daarvoor bedank.
Die oorhandiging is by die hospitaal se departement van kliniese-ingeneurswese gedoen.

“Hierdie spesifieke skenking kom van ‘n Duitse donateur. Met hulle geld het ons ook ander toerusting gekoop,” sê Theron.
Sy sê die trust werk nou met die hospitaal saam.
“Ons koop nie vir hulle goed wat hulle nie nodig het nie, so ons praat met die hoofde van elke afdeling wat weet wat aangaan, en hulle help ons om te bepaal wat is die nodigste. Daarna doen ons aansoek by donateurs, spesifiek vir daardie goed.
“Hulle besluit ook waarvoor hulle geld wil gee, dan koop ons dit aan,” sê Theron.
Sy sê die broeikaste is ‘n opgradering van die ou Isolette 2000.
Theron sê die trust, ‘n nie-regeringsorganisasie, is spesiaal gestig om die hospitaal te help en om hul werk te versterk.
“Ons doen nie net skenkings van toerusting nie, ons ondersteun ook die skool met onderwysers en skenk ander goed aan die hospitaal soos twee volledige wassery-toerustings die afgelope jaar.
“Al die geld wat ons het om donasies mee te maak, kom van geldinsamelings en donatuers,” sê Theron.







You must be logged in to post a comment.