Die drie verdagte mans wat in Morgenster aangekeer is. FOTO: Titanium Securitas


Ses vermeende inbrekers is verlede week in Brackenfell deur ’n plaaslike sekerheidsfirma vasgetrek en aan die polisie oorhandig.

Op 27 Maart is drie verdagte mans op Titanium Securitas se Overwatch-kameras gewaar waar hulle in Morgenster in die straat afgestap het.

“Ons misdaadvoorkomingseenheid het die gebied gepatrolleer en die drie mans weer in Gelbstraat opgemerk. Toe die reaksiebeamptes die mans nader, het hulle dadelik in alle rigtings begin hardloop,” sê Kobus Kotze woordvoerder van Titanium Securitas.

Een verdagte het probeer om oor mure in Potgieterstraat te spring en die ander twee verdagtes het oor die heining langs die spoorlyne gespring.

Al drie mans is aangekeer.

“Intussen het Titanium inligting ontvang dat ’n huisbraak in Gawiestraat in Morgenster plaasgevind het. Die verdagtes, onderskeidelik 32, 34 en 35 jaar oud, is deursoek en in besit van die gesteelde eiendom van Gawiestraat gevind en die polisie is ontbied,” sê hy.

Twee dae later is nog ’n man aangekeer waar hy op die dak van ’n huis weggekruip het, waar hy probeer inbreek het.

“Inwoners het die man op die eiendom gewaar en ’n boodskap op ’n plaaslike WhatsApp-groep gestuur.

“Lede van die reaksie-eenheid het die eiendom gefynkam en die verdagte gekry waar hy op die dak wegkruip. Hy is later aan die Brackenfell-polisie oorhandig,” sê Marx.

Daarbenewens, is nog twee verdagtes vasgetrek nadat gesteelde goedere in hul besitting gevind is.

“Die huiseienaar het die inbraak gerapporteer en ná ’n kort ondersoek deur Securitas-sekerheidsbeamptes is die twee mans gevind.”

Volgens Kotze is skuifdeure en vensters die mees algemene toegangspunte vir huisbrake en teiken die boewe draagbare elektronika, klere en enige ander waardevolle artikels.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article