Hoeveel keer wou jy al iets vir ’n behoeftige mens gee, maar het jy nie geweet wie daai persoon is of hoe jy dit by hom sou kry nie?
By die Living Network-krisissentrum weet die personeel altyd waar skenkings die beste aangewend kan word.
Behoeftiges stroom daagliks na die krisissentrum, wat langs die Vredelust Gemeente in Boston geleë is, om te hoor of daar nie dalk vir hulle hulp is nie.
Kos, klere, matriekafskeidsrokke, komberse, sokkies, arbeidsterapie, berading – as daar ’n krisis is, sal die sentrum probeer help.
Dink aan die legio probleme wat mense in hul lewe ervaar. ’n Broodwinner kan sy of haar werk verloor, ’n broer of suster kan dwelms gebruik, ’n meisie moet matriekafskeid toe, maar het nie ’n rok nie. By die krisissentrum het hulle al alles teëgekom en amper alles oorbrug.
Elke behoeftige word eers geëvalueer, voordat die personeel hul netwerk (vandaar die naam) inspan om goedere in te samel.
Louise Spies, wat al vir 21 jaar die bestuurder van die sentrum is, het ’n lang lys van kennisse en kundiges wat sy vir hulp gebruik. So is daar sielkundiges, dokters en ander terapeute wat hulp teen afslagpryse gee. Die sentrum betaal die rekening met geldelike donasies.
Die sentrum gebruik ook dikwels WhatsApp-groepe of kerke se omsendbriewe om vir hulp te vra.
Mense wat goedere bring vir “diegene wat dit die meeste nodig het”, se skenkings word ook blitsig aan die regte mense of instansies gegee. Dan is dit weer ’n ander netwerk wat hulle gebruik – een van behoeftige instansies of individue.
Deur die jare het verskeie gereelde skenkers deel van die krisissentrum se “familie” geword – een skenk sop, ’n ander gebreide klere. Spies noem dit mense se “liefdestake”.
“Daar is soveel mense wat ons hande in die lug hou en ondersteun,” sê Spies.
Innovering vir nood
Die nood het al deur die jare so groot geraak, dat Spies deur Liezel Snyman bygestaan word.
Die werk verg heelwat innovering omdat behoeftes verander. Hulle het onlangs ’n projek begin waar hulle die mense wat buite die Brights-hardewarewinkel vir werk wag, se besonderhede neem.
Hulle wil moontlik einde ten laaste ’n databank opstel wat gewone mense kan gebruik om die gepaste werker te kry.
Intussen stroom daar daagliks ook haweloses na die sentrum. Living Network is nie ’n sopkombuis nie en deel daarom nie kos uit nie, maar gee water, koepons vir die MES-skuiling en klere. Hulle hou rekord van alles wat uitgegee word sodat dieselfde mense nie alles kry nie.
Spies en Snyman voel sterk daaroor dat hulle alle donasies verantwoordelik moet uitdeel.
Die nood is oral groot.
“Almal is altyd honger,” sê Spies. “En soek altyd klere.”
Die sentrum is by 13de Laan 85 in Boston geleë en is daagliks van 07:30 tot 13:00 oop. Veral die volgende produkte is in aanvraag: pasta, kitsmieliemeel, kitsnoedels, sopmengsel, klein pakkies aartappels, margarien, rys, kitssop en blikkiessop. Skakel 021 950 4455 vir meer inligting.





