Die splinternuwe Mould Empower Serve (MES)-sentrum van Hoop is vandeesweek in Alexanderstraat in Parow eopen.
Die sentrum, wat Maandag 10 Oktober op Wêreld-hawelosedag om 14:00 bekendgestel is, is ’n eerste van sy soort vir dié organisasie sonder winsbejag, sê Ilse Maartens, MES-takbestuurder in Kaapstad. Dit sal toegang tot dienste vir haweloses integreer in ’n veilige omgewing, meen dié organisasie.
Maartens het gaste, ondersteuners, vrywilligers en donateurs Maandagmiddag verwelkom en bedank tydens haar openingstoespraak. Die geleentheid is bygewoon deur onder meer MES-personeel, donateurs, die eiendomseienaar en plaaslike wyksraadslid.
“Die Sentrum van Hoop sal ’n eenstopsentrum vir kwesbare gemeenskappe wees, wat deur Parow beweeg of hier woon, wat verskeie verblyfoplossings sal koördineer en fasiliteer. Dit sal dien as ’n instapsentrum vir maatskaplike ondersteuningsdienste en beroepsrehabilitasie aan kwesbares bied – alles onder een dak,” sê Maartens in ’n mediaverklaring.
Geleentheid vir sorg
Die sentrum is geleë by 110 Alexanderstraat in Parow.
“Meer belangrik is dat dit ’n geleentheid bied om die nood vir sorg en ontwikkeling vir haweloses te pak en terselfdertyd sal dit ook bydra tot die herlewing en ekonomiese ontwikkeling van die gebied,” meen Maartens.
In 2021 het die Austen Dundas-eiendomsgroep ingestem om die ou muurbal-sentrum aan MES uit te verhuur vir maatskaplike opbouing-projekte teen R12 per jaar, oftewel R1 per dag. Die opknappingswerk aan die gebou het in Desember verlede jaar begin. Die sentrum sal nou 40 mans en 20 vroue kan huisves, lui die mediavrystelling.
Behalwe die MES-kantore in Kaapstad is daar soortgelyke sentrums in Johannesburg, Kempton Park en Gqeberha.





