Seniors by die Ruyterwacht Senior Sentrum is onlangs oor tuberkulose (TB) ingelig.
Volgens Rene Coetzee, programkoördineerder by dié sentrum, was hierdie inligtingspraatjie belangrik, veral omdat ouer mense oor TB ingelig is.
“Hulle is baie meer vatbaar as gesonde jonger mense, as gevolg van verswakte immuniteit en onderliggende siektes.
“TB is aansteeklik en kan baie vinnig versprei as dit nie behandel word nie.
“Sodra daar ’n vermoede van TB is, moet die persoon onmiddellik na die kliniek of daghospitaal verwys word sodat hy of sy getoets kan word,” sê Coetzee.
Sy sê TB is ’n enorme probleem reg oor die wêreld, maar veral in armer lande waar MIV/vigs ook voorkom.
“Indien iemand se immuunstelsel sterk en gesond is, sal dit teenliggaampies vervaardig en dit die TB onder beheer hou vir baie jare.
“Wanneer die persoon se immuunstelsel verswak, word die TB-bakterie aktief, vermeerder en groei vinnig.
“Sodra dit gebeur, word die persoon siek en begin die tekens en simptome wys,” verduidelik Coetzee.
Sy meen dit is belangrik vir seniors om vensters oop te maak vir vars lug, jou blyplek skoon te hou, jou hand voor die mond te hou as jy hoes en nie in die straat te spoeg nie. Die belangrikste is dat, indien jy medikasie kry, jy dit gebruik soos voorgeskryf en die kursus voltooi, sê sy.
Jaarliks gediagnoseer
“TB word jaarliks by baie seniors en ander mense in die gemeenskap by die daghospitaal gediagnoseer – meestal as gevolg van die ongesonde omstandighede waarin hulle woon. Hierdie mense kry dan medikasie vir die behandeling daarvan,” sê Coetzee.
“By die Ruyterwacht Senior Sentrum het ons gelukkig nog nie veel, indien enige, gevalle gehad waar TB by van die seniors gediagnoseer is nie,” sê sy.




