Dié groep jongmense het hul tyd afgestaan om seniors se dag op te helder.

Verskaf

Meer as 100 senior burgers is verlede week, as deel van Internasionale Seniorsdag, by die Verenigde Gereformeerde-kerk in Silversands op die hande gedra.

Die dag is moontlik gemaak deur die Aurora-nieregeringsorganisasie, die plaaslike seniorklub, asook die kerk.

Latifah Jacobs van Aurora sê sy is deur Sarah Ludick van die seniorklub genader.

“Auntie Sarah het gesê in Vrouemaand word daar so baie geleenthede aangebied, maar weinig is vir seniors. Ons het dus besluit om hierdie geleentheid aan te bied,” sê Jacobs.

Die temas van die dag was “Restore Hope” en “Celebrate Life”.

“Weens die Covid-pandemie het baie mense en veral seniors hul lewens verloor en dit is nou die geskikte tyd vir ons om weer te begin om die lewe te vier. En ook om weer hoop vir die toekoms te kweek,” sê hy.

By die geleentheid is van die seniors se bloeddruk onder meer geneem en verskeie mense het praatjies gelewer.

AO November Filander van die Mfuleni-polisie het oor misdaad gepraat en Franzell Daniels, ’n maatskaplike werker, het oor die regte van seniors gepraat.

Jongmense ook betrokke

’n Groep jongmense het hulle ook beskikbaar gestel om die seniors te pamperlang.

“Hulle het tee aangedra en alles in hul vermoë gedoen om die seniors se dag so lekker as moontlik te maak. Daar is soveel wat die jongmense by die seniors kan leer, want hulle het die ervaring. Baie seniors voel eensaam en kry nooit die geleentheid om saam met jongmense te sit en ’n bietjie van hul leefwyse uit te vind nie. Hierdie geleentheid was ideaal,” sê Jacobs.

Ludick sê die dag was wonderlik en die seniors het dit terdeë geniet.

“Ek wens daar kan meer gedoen word om seker te maak seniors word deel van die gemeenskappe gehou en nie as ’n oorlas beskou nie. Ons moet meer sulke geleenthede reël,” sê Ludick.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article