Die Durbanville Seniors Hub (DSH), wat in 2019 gestig is met die doel om waarde toe te voeg tot die daaglikse lewe van senior burgers in Durbanville en omgewing, het die jaar met ‘n bedrywige program afgeskop.
Buiten gereelde oefensessies sedert 7 Januarie, het twee sprekers die lede al kom toespreek. Louise Coetzee van die Durbanville-kinderhuis het hulle meer vertel oor die daaglikse verloop van die lewe van ‘n kind in die kinderhuis. Dit is opgevolg met ‘n besoek aan die kinderhuis deur lede van die DSH.
Produkte van papierpulp
Emile Barnard, ‘n voetheelkundige het hulle oor voetgesondheid toegespreek en veral aandag gegee aan die impak van diabetes op voetgesondheid, asook die reeks voetgesondheidsdienste wat deur voetheelkundiges aangebied word. Die lede is op Menseregtedag (21 Maart) deur die Durbanville Lionsklub na ‘n bring-en-braai genooi. Die DSH lede is ook bederf met ‘n heerlike Valentynsdag-geleentheid by die Durbanville-krieketklub. Hul eerste uitstappie van die jaar was na Andene’s Farm Flowers op Lourensford-wynlandgoed in Somerset-Wes, gevolg deur ‘n besoek aan Vergelegen se wynplaas en tuin, en ‘n uitstappie na Gordonsbaai en die Strand. In Maart was daar ‘n uitstappie na die Elgin-mark.
In April bied Petro Voster ‘n demonstrasie aan van hoe om produkte van papierpulp te vervaardig.
Vir Moedersdag word ‘n byeenkoms by ‘n plaaslike restaurant beplan.
In Mei begin die lede ook om wolprodukte soos kniekombersies, serpe, handskoenne, bedsokkies en wolmussies aan ouetehuise in die Durbanville-omgewing, sowel die Andries Olivier-sentrum se inwoners uit te deel. Die DHS het ook by die jaarlikse basaar van die NG kerk Durbanville-Bergsig ‘n stalletjie gehad, waar lede hul brei- en hekelprodukte verkoop het.
Nuwe vriende
Enigeen wat graag nuwe vriende wil ontmoet, word genooi om by die DHS aan te sluit. Die jaarlikse aansluitingsfooi is slegs R170.
Die gereelde aktiwiteite sluit in:
. Maandae: ontbyt om 11:00 by Café 22 in Oxford Straat, Durbanville;
. Dinsdae: brei- en hekelgroep vergader om 11:00;
. Dinsdae en Vrydae: valvoorkomingsoefeninge by die Durbanville-krieketklub om 10:00, gevolg deur koffie, tee en bordspeletjies.
Daarbenewens is daar ook ‘n inligtingsblad met afslag en dienste vir seniors, maandelikse daguitstappies na besienswaardighede in en om Kaapstad, die viering van spesiale geleenthede soos Valentynsdag en Moedersdag, maandelikse motiveringsprekers oor onderwerpe relevant vir seniors, fondsinsamelingsprojekte met lootjies vir pryse, ‘n jaarlikse fondsinsamelingsdans, markstalletjies, asook ‘n jaareindgeselligheid vir lede.
Alle opbetaalde lede kom op ‘n WhatsApp-groep, waar verjaardae gevier word en nuus gedeel word.
Kontak Marina Jansen op Whatsapp by 073 808 1541 met navrae.






