Seniors word geleer swem en neem ook aan ander aktiwiteite deel

Dié groot groep seniors kom elke Woensdag by die Blue Downs-swembad bymekaar.


As jy ’n senior burger is wat naby die Blue Downs-swembad woon en jy weet nie wat om op ’n Woensdag met jou tyd te doen nie, is daar hulp.

Die mense by die swembad bied elke Woensdag verskeie aktiwiteite vir seniors aan.

Koby Michaels, wat aan die stuur van sake staan, sê ’n mens hoef nie eens te kan swem om by hulle aan te sluit nie.

“Daar word verskeie wateraktiwiteite aangebied en of jy nou ’n klein bietjie kan swem of glad nie, ons akkommodeer jou. Daar is genoeg menseredders om te sorg dat almal veilig is en die water geniet,” sê Michaels.

Van die aktiwiteite wat aangebied word sluit in asemhalingsoefeninge, aërobiese oefeninge, swemopleiding en hoe om te oorleef as jy per ongeluk in water beland.

Senior burgers geniet hul tyd in die swembad.

So vinnig het die program gewild geword dat meer as 60 deelnemers weekliks by Michaels aansluit.

“Hier word mense nie net fiks nie, maar dit is ook vet pret. Baie van ons seniors sit net by die huis, maar besef nie hulle kan ook iets aktiefs doen nie en dit in die proses geniet ook. Selfs al is jy in ’n rolstoel, is jy welkom,” sê Michaels.

Deelnemers aan die program kom uit Blue Downs, Happy Valley en al die omliggende gemeenskappe.

Hazel Affinand (62), een van die deelnemers, sê die weeklikse program is een van die hoogtepunte van haar week.

“Buiten al die oefeninge en aktiwiteite ontmoet ons ook mense van ander gebiede, wat ons dalk nooit sou ontmoet het nie. So word nuwe vriendskappe gesmee. Ek het onlangs ’n nuwe vriendin ontmoet en ons kon toe mediese advies onder mekaar uitruil,” sê Affinand.

Sy nooi enigiemand uit om hulle op ’n Woensdag by die groep aan te sluit.

“Kom verbreed jou horisonne en word sommer fiks ook terwyl jy dit doen,” sê sy.

Om meer oor die program uit te vind of aan te sluit, stuur ’n WhatsApp-boodskap na Michaels by 083 417 7995.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article