Seniors van die Jabulani- en Jubileum-afreeoorde in Goodwood het die breipenne laat klap vir ’n kinderprojek om sagte speelgoed te brei.
Die speelgoed is op 7 April aan Ronel de Jager, die hoofstaatsaanklaer van Bellville, oorhandig.
De Jager is in beheer van 11 howe waar hofsake van seksuele mishandeling van kinders hanteer word en die seniors het in samewerking met haar die gemeenskapsprojek begin.
“Ná die opheffing van die Covid-19-regulasies het ek nege van die inwoners in die aftreeoorde gevra om te help om die sagte speelgoed te brei,” sê Linda Louw, wat die gemeenskapsprojek koördineer.
“Daar is ’n groot behoefte aan sagte speelgoed, eetgoed en kinderklere, wat deur die gemeenskapsprojek uitgewys is. Benewens die nege vroue in die afreeoorde, is daar ook seniors in die omgewing wat ook flink die penne opgeneem het,” sê Louw.
Die pragtige handgemaakte artikels van die seniors – truitjies, beertjies, poppies, diertjies, beanies, serpe en allerlei ander breigoed – is bewonder deur almal wat die oorhandiging bygewoon het.
“Die eetgoed, koekies en Paaseiers is met groot dankbaarheid deur De Jager ontvang.
“Die kontant wat ontvang is, sal help om die tekort aan te vul, maar ek is baie dankbaar vir die kinderklere wat baie welkom is en ook ’n seën is om die nood te verlig.
“Die projek is werklik ’n seën en ek kan nie genoeg dankie sê nie,” sê De Jager.
By die oorhandiging het Louw bygevoeg dat dit belangrik is vir bejaardes om aan aktiwiteite deel te neem wat hulle fisiek en geestelik aktief hou.
“Dit verhoed vroeë veroudering en voorkom eensaamheid, want hulle hunker na die intimiteit van ’n sosiale verbintenis met vriende en familie,” sê Louw.
Sy het seniors in woongebiede aangeraai om betrokke te raak by projekte in hul omgewing, want dit gee sin aan hul herfsjare.
“Ek wil almal bedank wat ’n bydrae tot die projek gelewer het en ek nooi ander seniors uit om ook by die projek betrokke te raak. Die nood is groot vir skenkings en as jy daagliks mediaberigte lees, is dit vol hartseerverhale van mishandelde vroue en kinders. U gebede en bydraes help om ’n kinderhart weer bly en heel te maak – ons maak verseker ’n verskil.
“Ek wil u elkeen aanmoedig om ten spyte van moeilike tye ons te bly ondersteun, al is u bydrae hoe klein.
“Woorde ontbreek om u uit my hart te bedank, maar weet dat Jesus, wat kinders na aan Sy hart hou, ook ’n blymoedige gewer lief het ( 2 Kor. 9:7). Mag die Here u elke dag met Sy liefde omvou en ryklik seën. Ons beplan om teen einde Julie of begin Augustus weer ’n oorhandiging te doen, maar sal mense op hoogte daarvan hou,” sê Louw.
- Enigiemand wat by hierdie groot projek betrokke wil raak, kan Linda Louw by 084 554 1948 bel.





