’n Sagte brei-speelding vir kinders wat deur trauma moes gaan, laat die breipenne klik onder ’n groep toegewyde senior vroue wat ’n verskil wil maak.
“Ongeveer 36 senior vroue laat die naalde klik en hou hulself besig met breiwerk. Hulle brei vir die 18 howe. Hierdie artikels word verdeel tussen seksueel mishandelde kinders wat die trauma moes deurmaak van die afskuwelike dade,” verduidelik Linda Louw, die koördineerder van hierdie projek, ’n afgetrede inwoner van die Jabulani-aftreeoord.
Op Donderdag 22 Augustus het die groep weer gebreide artikels en eetgoed oorhandig. “Met die oorhandiging het ons weer eens gehoor hoeveel vreugde en geluk hierdie skenkings vir die kinders by die 18 howe bring,” vertel Louw. Sy bedank almal vir hul bydraes wat die oorhandiging moontlik gemaak het. “Hierdie projek is al amper vier jaar aan die gang.”
Louw meen die Here seën dit so mildelik dat hulle in staat was om in Mei, Julie en Augustus bakkievragte vol artikels te kon oorhandig.
“Mag ons Hemelse Vader elkeen van u ook afsonderlik met Sy goedheid en liefde seën. Ek waardeer elkeen van julle en vertrou dat ons nooit sal ophou om goed te doen aan hulle wat dit nodig het nie, want ons doen dit mos vir Jesus,” sê Louw





