Seniors moet hulself kan beskerm teen misdadigers, aangesien hulle die mees kwesbare mense is.
Só meen Deon Oosthuizen, ajunkvoorsitter van die plaaslike Monte Vista Plattekloof Glen-buurtwag, nadat ‘n bejaarde onlangs by haar huis in Plattekloof Glen oorval en beroof is.
Volgens AO Joseph Swartbooi, provinsiale polisiewoordvoerder, ondersoek die Goodwood-polisie ‘n saak van huisroof ná die voorval by die senior se huis op Woensdag 28 Mei en word daar ‘n beroep gedoen op mense met inligting om die polisie te kontak.
“Volgens die verslag is die klaer in die vroeë oggendure wakker gemaak deur ‘n geluid op die huis se dak. Sy het die alarm geaktiveer, maar die verdagtes het reeds die huis betree, waarna ‘n stoeiery uitgebreek het. Die slagoffer is in die proses raakgesteek,” sê Swartbooi.
Die verdagtes het van die toneel gevlug. ‘n Selfoon is in die roof gesteel.
Die verdagtes is steeds soek en Swartbooi sê die omstandighede rondom die voorval word nog ondersoek.
Oosthuizen sê Monte Vista en Plattekloof Glen het die afgelope ruk erg onder misdaad deurgeloop, ná ‘n lang periode van min misdaad.
“Veral ons bejaardes, van wie ons sektor talle het, is kwesbaar,” sê hy.
Nog ‘n inwoner is die afgelope naweek aangeval.
Volgens Oosthuizen het die voorval Sondagoggend plaasgevind. Hy en sekerheidsbeamptes van District Watch, ‘n plaaslike sekerheidsmaatskappy, het glo probeer om die booswigte agterna te sit, nadat hulle glo ‘n huis se venster verwyder het.
“Die huiseienaar het op hulle afgekom toe hulle by die venster probeer uitklim. ‘n Bakleiery het uitgebreek en hy kon daarin slaag om hulle te verjaag.”
Oosthuizen het veiligheidswenke gedeel, wat hy meen deur almal toegepas moet word. Hy sê inwoners moet probeer om dit moeiliker te maak vir misdadigers om hulle te teiken.
“Wanneer ons kyk na veiligheid, soek ons verkieslik vroeë waarskuwingstelsels, aangesien ons op ons kwesbaarste is wanneer ons onkant betrap word,” sê hy.
Versteekte strale (hidden beams) buitekant die huis wat jou dadelik van ‘n oortreder se teenwoordigheid bewus maak, is die eerste stap in die beveiliging van jou eiendom.
“Ek stel voor dat inwoners in ‘n goeie alarmstelsel belê met strale. Dit is duur, maar dit is ‘n belegging in jou persoonlike veiligheid en verhoog die waarde van jou huis. Ek sal ook voorstel dat mense gaan kyk na die veiligheidsmaatskappye wie se dienste hulle gebruik – verkieslik ‘n maatskappy met ‘n voetspoor in die gebied en wat die gebied gereeld patrolleer. Om spoedige gewapende reaksie te hê, is ‘n moet.”
Oosthuizen sê honde is ook goed vir beskerming – ‘n waghond, of net ‘n hond wat kan alarm maak. Honde, meen hy egter, is ‘n belegging en verantwoordelikheid wat soms nie vir alle senior inwoners ‘n opsie is nie.
Oosthuizen sê om ‘n kamerastelsel te installeer, is ook goed, veral stelsels wat kennisgewings na jou selfoon stuur.
“Dit is iets wat jou familie ook kan monitor. Ons het al voorvalle gesien waar ‘n familielid in die vroeë oggendure aan die werk was en hul ouers se huis gemonitor het, en iemand opgemerk het wat besig was om by hul voertuig in te breek,” sê hy.
Die sekerheidsmaatskappy is in kennis gestel en die verdagte is op heterdaad betrap.
Inwoners moet ook by hul straat of gemeenskap se WhatsApp-groepe aansluit.
“Mense het altyd hul selfone by hulle en kan op die groepe hulp versoek. Ek sal voorstel dat die polisie, gewapende-reaksie of die Stad Kaapstad se noodnommer (112 of 021 480 7700) eerste geskakel word.”
Nog ‘n goeie afskrikmiddel is om klippies op wandelpaaie by die huis te gebruik, aangesien dit ‘n geraas maak wanneer iemand daaroor stap, en hekke te installeer en dit te sluit.
“Ek het al menigmaal gesien, terwyl ons op patrollie is, hoe hekke oopgelaat word.”
Ook, installeer diefwering by vensters en veiligheidshekke in die gange binne die huis wat na die slaapkamers lei. Hy sê inwoners moet ook probeer om hul aluminiumvensters te beveilig aangesien dit ook ontkoppel en verwyder kan word.
Oosthuizen sê dis ook ‘n goeie idee om gereedskap, soos ‘n leer en vullisdrom, weg te bêre aangesien dit gebruik kan word om toegang tot die perseel te verkry.
Ligte wat mense se beweging kan bespeur, is ook ‘n goeie idee aangesien dit jou in kennis stel wanneer iemand verby dit beweeg.
“Laastens wil ek almal aanmoedig om by hul buurtwag aan te sluit. Veiligheid en sekuriteit is ‘n universele taal wat almal kan praat, en ons almal wil in ‘n veilige omgewing woon. Dit sal help om mense ingelig te hou oor die misdaadtendense in die gebied, en ook gemeenskapsinteraksie verbeter, wat gevolglik misdaad in die gebied sal help verminder,” sê Oosthuizen.





