Senior burger met rugby-museum nooi sportliefhebbers uit om te kom kyk

’n Springbok-muurhorlosie hang in Billy se Rugbymuseum in Parow.FOTO’s: Billy Augustyn


Die 2023-Wêreldbekerrugby vind in September en Oktober vanjaar in Frankryk plaas en een plaaslike aanhanger maak nou al gereed vir dié groot geleentheid.

Billy Augustyn, ’n inwoner van Esperancestraat in Oostersee in Parow-Oos en eienaar van Billy se Rugby-museum, het onlangs bekend gemaak dat sy huis, wat hy enkele jare gelede in ’n rugbymuseum omskep het, nou oop is vir die publiek.

Hy het onlangs gesê sportliefhebbers is welkom om sy rugbymuseum by sy huis, waar hy nou al meer as 50 jaar lank woon, te besoek.

“Ek het ’n baie groot rugbyversameling wat ek graag met almal wil deel wat sou belangstel om daarna te kom kyk.

Billy Augustyn het ook die volledige Springbok-uitrusting in sy versameling.FOTO: Billy Augustyn

Enigeen is welkom om te kom, laat weet my net vooraf,” sê die afgetrede onderwyser.

Hy het meer as 100 verskillende Springbok-pette, omtrent 50 verskillende WP- en Stormers-pette, Super 12-, 14- en ook Super Rugby-pette, provinsiale pette en nog baie ander van verskillende lande, spog hy.

In sy versameling in sy voorkamer, eetkamer en onthaalgebied is daar ook talle vlae, glase, rugbyfoto’s, truie en lapelwapens. Hy spog ook met ’n wye verskeidenheid serpe, “beanies”, plakboeke, CD’s, DVD’s, rugbyboeke, handtekeninge en wedstrydprogramme.

Benewens dit het hy ook honderde foto’s.

“Kom kyk maar self,” sê die senior burger wat jare gelede ook vir die Bellville-rugbyklub uitgedraf het.

Daar is ook verskeie vlae in sy rugbyversameling.FOTO’s: Billy Augustyn

Augustyn, wat as jongman op skool en ook op kollege rugby gespeel het, is hoopvol dat die Springbokke vanjaar weer die Webb Ellis-trofee huis toe sal bring.

In November 2019, kort ná die Wêreldbeker in Japan, het TygerBurger ook oor Augustyn en sy Springbok-memorabilia en museum berig. Sy eerste versamelstuk het hy op 14 jaar gekry, het hy destyds vertel.

Skakel 082 576 6862 vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article