Haar idees vir tuinbou kom uit verskeie oorde, maar by Kirstenbosch Botaniese Tuin het Magriet Beukes (79) haar inspirasie gevind.
Só vertel dié inwoner van President Swartstraat in Panorama, wat in September 2019 haar tuin begin omskep het in haar eie “botaniese tuin” waar sy en ander soms ontspan.
Haar tuin bestaan meestal uit vetplante, maar daar is ook rose en strelitzias.
Beukes sê hoewel sy die groenvingers in die gesin het en die tuinbouprojek aan die gang gesit het, het sy aan die begin hulp van haar man, seun en dogter ontvang, maar deesdae word sy deur ’n tuinier gehelp.
Meestal snoei Beukes egter self. Sy sê daar word ook net een maal per week water gegee.
“Hier is mense wat al verbygestap en gevra het of hulle na die tuin kan kom kyk en foto’s neem,” sê die pensioenaris.
Voor 2019 het die erf meestal uit gras en rose bestaan.
“Maar toe kom die droogte daai jaar, en die gras gaan dood. Ons kon ook nie meer gras natmaak nie.”
Beukes sê sy het deur ’n paar tydskrifte geblaai in dié tydperk en idees vir ’n tuin gekry.
Sy het sementstene aangeskaf, waarna die klip, sand en plante gevolg het. Die tuinier spog nou met ’n verskeidenheid vetplantsoorte.
“Onder meer is hier ’n seldsame vetplant; hulle noem dit ‘donkie-oor’. Dis ook ’n soort vetplant. Hy groei mooi hoog en blom nou op die oomblik. Dit het roomkleurige blomme. Hy het ’n pragtige fluweelagtige blaar,” vertel sy.
Dan het sy ook vier groot kraanvoëlblomme, die oranje met die blou. Die algemene naam is strelitzia, maar mense verwar dit met die ou grotes. Daarvan het ek baie, sê sy.
“Dan het ek ook kraalmelkhoutstruike,” sê sy.
Sy sê die tuin was ’n spanpoging.
“Dit was ek, my dogter en seun. Ek het niemand anders gehad nie. Ek was die sersant en hulle my onderdane.
“Ek het gesê, sit daai klip daar en sit daai slab daar.
“Ek het gesê sit die punt aan daai punt; dit was soos ’n prentjie wat begin inmekaar pas het, en toe het ek die prentjie sien waar word. Dit is vir my ’n fees om in die tuin te wees,” sê Beukes.
Vir dié boorling van Merweville in die Karoo, wat sedert haar tienerjare tuinmaak, is die instandhouding van die tuin ook nie ’n uitdaging nie.
“Ek snoei so nou en dan en gee water, maar min water – seker so een maal per week. Dan maak ek sommer goed nat, want die water is baie duur.”
Beukes sê sy is ook sedertdien uitgenooi om die kerk se tuin op te knap en in stand te hou. Sy doen ook blomme-rangskikkings vir die kerk vir Sondae se dienste, sê sy.
“Toe ek eers begin het, kon ek nie meer stop nie.”





