Sekerheidsbeamptes sit hand by ná oorstromings

’n Sekerheidsbeampte van District Watch sit skouer aan die wiel nadat ’n dagsorgsentrum verlede week oorspoel is toe ’n pyp gebars het. Swaar reën is verlede week en die afgelope naweek in Kaapstad ervaar.


Die onlangse swaar reën het veroorsaak dat talle paaie, sowel as huise, in die Plattekloof Glen- en Panorama-omgewing oorstroom is.

Verskeie huiseienaars is egter verlede week deur sekerheidsbeamptes bygestaan om te help met die opruiming in dié gebiede.

Gawie Venter, woordvoerder van District Watch, sê beamptes het verlede week op sowat 11 gevalle van oorstromings by privaat wonings gereageer.

“Die span het verskeie gesinne uitgehelp wat in hul huise vasgekeer was, of gehelp met die skoonmaakproses ná die kitsvloede,” sê Venter.

’n Dagsorgasentrum in Plattekloof Glen was een van die plekke wat oorstroom is – glo nadat ’n pyp gebars het. Ook daar is ook hand bygesit met die opruimingswerk.

’n Huis se perseel in Marine-singel in Panorama is ook Saterdag 18 Junie oorstroom. Die straat is ook oorstroom en beamptes het gesukkel om toegang tot die eiendom te verkry, lui die inskrywing op die maatskappy se sosialemedia-blad.

Nog ’n huis in Westerwijk-rylaan in Plattekloof Glen is Vrydag oorstroom, wat daartoe gelei het dat die inwoners binne vasgevang was. Daar moes beamptes te voet na die huis beweeg weens die oorstroming, wat die straat onbegaanbaar gemaak het vir voertuie.

Beamptes het egter nie net die huiseienaar te hulp gesnel nie. “Ons reaksiespan het ook aan verskeie motoriste wat verlede week in diep water vasgevang was, hulp verleen. Daar was omtrent ses sulke gevalle. Daar is ook tydens die storm hulp verleen aan motoriste met pap bande,” sê Venter.

’n Weerwaarskuwing is Vrydagoggend deur die Stad Kaapstad se rampbestuur en die Suid-Afrikaanse Weerdiens uitgereik oor moontlike swaar reën en sterk wind Vrydagaand tot en met Saterdagnag. Die rampbestuursentrum het aangedui dat paaie Vrydagnag en Saterdag in Nuweland en Wynberg oorstroom is.

Rampbestuurbeamptes en ander departemente van die Stad was die afgelope naweek nog besig met assessering ná die gure weersomstandighede.

Die informele nedersettings wat die ergste deur die reënweer geraak is, sluit in Langa, Strandfontein en Schaapkraal.

Kragonderbrekings is ook ervaar as gevolg van die swaar reën in gebiede soos Joe Slovo, Mfuleni, Langa en Heideveld.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article