Seesig-moord: Man wat vrou se kop afsny, wag nog vir bed in psigiatriese hospitaal

Kyle Ruiters het Lynette Volschenk in Augustus 2019 in haar woonstel in die Seesig-woonstelgebou in Bellville vermoor. FOTO: Jaco Marais | Netwerk24


Die man wat ’n vrou in haar woonstel vermoor het, voordat hy haar lyk opgekap en versteek het, wag steeds vir ’n bed in ’n psigiatriese hospitaal.

Kyle Ruiters (28) het Lynette Volschenk (32) op 21 Augustus 2019 in haar woonstel in die Seesig-woonstelblok in Loevenstein vermoor.

Hy is in Mei vanjaar in die Wes-Kaapse hooggeregshof skuldig bevind aan moord met voorbedagte rade, lykskending en ’n aanklag van poging om regsverydeling te pleeg.

Sy saak is tot verlede Vrydag uitgestel sodat hy 30 dae sielkundige waarneming kan ondergaan nadat die staat ’n aansoek ingedien het dat hy ’n gevaarlike misdadiger verklaar moet word.

Die hof het egter gehoor hy is 103de op die waglys van mense wat vir dieselfde evaluasie by die Valkenberg-hospitaal verwys is.

Sy saak is tot 20 Oktober uitgestel.

Ruiters het by sy vorige verskyning ’n gedetailleerde pleitverduideliking ingedien, waarin hy erken het hy het Volschenk se bewegings dopgehou om haar te vermoor.

Hy het vooraf navorsing gedoen oor hoe om haar lyk op te sny en van haar liggaamsdele ontslae te raak.

Hy is egter die dag ná haar moord in hegtenis geneem nadat kollegas hom in haar woonstel betrap het waar hy besig was om die mure te was.

Dit is deur regter Robert Henney aanvaar.

Volgens ’n psigiatriese verslag, wat ook by die hof ingedien is, het twee forensiese sielkundiges wat Ruiters ondersoek het, gesê hy toon psigopatiese eienskappe en dat hy ’n reeksmoordenaar wou word.

Hy het aangetoon hy het groot bewondering vir die reeksmoordenaars Ted Bundy en die Zodiac-moordenaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article