Karla Gates se 100ste wedstryd
Karla Gates stap op vir haar 100ste eerstespanwedstryd terwyl haar spanmaats vir haar ‘n erewag vorm.

Karla speel 100ste hokkiewedstryd vir De Kuilen se eerstespan

Karla Gates se 100ste wedstryd
Karla Gates stap op vir haar 100ste eerstespanwedstryd terwyl haar spanmaats vir haar ‘n erewag vorm.

Karla Gates, ‘n matriekleerder van die Hoërskool De Kuilen, het Saterdag 25 Julie ‘n besonderse mylpaal, een wat min leerders beskore is, bereik.

Toe Karla op Vrydag 8 April 2022 as 14-jarige gr. 8-leerder die heel eerste keer vir De Kuilen se meisies-eerstespan op die hokkieveld uitgedraf het, sou sy nooit kon raai dat sy eendag vir haar 100ste wedstryd vir die span sal uitdraf nie.

Ná vyf jaar se toewyding, oefen, lag, huil, verloor en wen saam met verskeie spanmaats kon Karla, wat ook die span se kaptein is, Saterdag trots vir ‘n honderdste keer aantree.

Karla Gates se 100ste wedstryd
Karla Gates het Saterdag haar 100ste hokkiewedstryd vir De Kuilen se meisies-eerstespan gespeel. By haar is (van links): André Engelbrecht (eerstespan-afrigter), Kuyper Albertyn (onderhoof) en Herman Mellet (skoolhoof).

Leierskap en vernuf

André Engelbrecht, afrigter, sê Karla het ten spyte van haar jong debuut vir die eerstespan gou ‘n impak op die veld gemaak. Danksy haar balvernuf, aanvallende spel en vermoë om geleenthede vir doelskote te skep, het sy sommer gou ‘n sleutelspeler vir die span geword.

Oor die jare het sy 43 doele vir die eerstespan aangeteken. Benewens haar vermoë om punte aan te teken, word Karla ook vir haar leierskap en begrip van die spel geprys.

Karla se 100ste wedstryd, teen die Hoërskool Melkbosstrand op De Kuilen se astroveld, is deur ‘n kort seremonie voorafgegaan. ‘n Spesiale hempie met 100 op die rug is aan haar oorhandig.

Karla is die eerste leerder in De Kuilen se geskiedenis wat dit kon regkry om 100 eerstespan-wedstryde vir die skool te speel. Volgens die skool is dit onwaarskynlik dat dit gou geëwenaar sal word, aangesien meeste spelers nie by 50 wedstryde uitkom nie.

Karla Gates se 100ste wedstryd
Karla Gates in aksie in haar 100ste eerstespanwedstryd vir De Kuilen.

“Ons is ongelooflik trots op Karla om dit te kan vermag deur goeie gesondheid en genade van Bo!” het Johan Gates, Karla se pa, gesê.

LEES OOK: Zara helps WP clinch national hockey gold

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article