’n Amptelike openingsgeleentheid is op Vrydag 18 November by die Sarepta-kliniek gehou nadat aanbouings en verbeterings aan die fasiliteit onlangs afgehandel is.
Die opknapwerk van R3,7 miljoen is in 2019 deur die Stad Kaapstad goedgekeur. Die konstruksie kon in Maart vanjaar begin nadat dit aanvanklik weens die Covid-19-pandemie vertraag is.
Die kliniek het nou ’n afsonderlike deel met ’n wagkamer vir tuberkulose-pasiënte. Daar is ook ’n groter ontvangsgebied, ’n dokumente-kamer, ’n groter apteek, ruim stoorkamer, bykomende spreekkamers en kantore, openbare toilette, ’n personeelkamer, asook ’n huisie vir die sekerheidswag buite die kliniek.
Prof. Vera Scott, gebiedsbestuurder van die Stad se gesondheidsdiens, het Leonore Fortuin-Johnson, kliniekbestuurder, en haar personeel geprys omdat dienslewering tydens konstruksie voortgegaan het – al moes hulle ’n geruime tyd van die saal langsaan gebruik maak.
“Die personeel moes letterlik die kliniek oorskuif en weer terug toe die nuwe fasiliteit middel Oktober gereed was.”
Scott sê dis merkwaardig dat die Sarepta-kliniek binne die eerste maand in die nuwe fasiliteit die hoogste platinumstatus kon behaal – volgens die Stad se maatstaf waarvolgens fasiliteite en die dienste deur ’n volledige oudit beoordeel word.
Die bouplan maak voorsiening vir toekomstige uitbreidings, sê Scott. “Hierdie is fase een en vir die toekoms is daar fase twee, wanneer die behoefte ontstaan om nog ’n vleuel aan te bou.
Die aantal mense wat die kliniek bedien het, sedert 2019 van 18 000 tot 23 000 vanjaar toegeneem.





