Ná byna drie dekades het Tiekie Zeelie (79), eienaar van die sakeonderneming Lawnmower Hospital in Voortrekkerweg in Parow uiteindelik besluit die tyd het aangebreek om dié besigheid vaarwel toe te roep.
Lawnmower Hospital is in 1979 geopen en geregistreer deur Zeelie en haar man, Willem Zeelie.
Haar tweelingbroer se kleinseun het nou die leisels by haar oorgeneem.
Zeelie het ná haar bedanking uit die versekeringsbedryf in 1991 amptelik aangesluit en werk al 31 jaar by die onderneming. Sy bedryf egter die afgelope ses jaar die besigheid alleen ná haar man se dood.
“ ’n Besigheid groei op sy eie en jy kry jou tye wat dinge beïnvloed.
“Wat ons besigheid benadeel het, was toe die mark oopgegaan het vir al hierdie mense wat tuindienste doen.
“Die besigheid het aan die begin vinnig gegroei, maar soos die jare aangestap het, het talle elemente en die regering bygekom en ons werk raak toe al hoe minder.
“Ander dinge wat ons besigheid benadeel het, was die sogenaamde ‘backyard mechanics’ wat van hul huise af werk,” sê sy.
Oor die jare het soortgelyke besighede in die gebied oopgemaak, maar weer later hul deure gesluit, vertel sy.
Lawnmower Hospital het die publiek en skole bedien.
“In dié bedryf is dit ’n diens wat jy lewer en jy moet die diens tot die beste van jou vermoë lewer. Die kliënt is altyd reg.
“Jy moenie met mense stry nie, en dan het ek ook goeie kommunikasie gehandhaaf.”
Tiekie sê die besigheid het ook omgesien na minder bevoorregtes wat gereeld by die winkel aangeklop het om hulp.
“My man se motto was leef en laat leef, en op daai basis het ons hierdie besigheid bedryf.”
Ander faktore het ook ’n impak op die besigheid gehad, sê sy.
“Die twee jaar droogte wat ek deurgemaak het, was erger as die twee jaar van Covid-19; ons het letterlik niks werk gekry nie, want daar was nie gras nie.”
Zeelie se besigheid is darem in staat om weer aan te pas.
“Hulle sê mos: ‘the biggest room, is room for improvement’. Jy moet net hard werk,” sê sy.
Dit sluit ook in die aankoop en gebruik van nuwe tegnologie om die besigheid verder te bedryf en te laat groei.
Zeelie se laaste dag as eienaar was verlede Donderdag 30 Junie. Sy sê sy kan afskeid neem en haar besigheid in goeie hande laat. Sy beplan om ná aftrede mense op straat te help, sê sy.
“Een ding sê ek vir jou, by die huis gaan ek nie sit nie,” skerts sy. Dan is daar ook die vetplante waarmee sy beoog om haarself mee besig te hou, sê sy.





