Komiteelede van links agter is Carle van Schalkwyk en Philip van Zijl. Onder is Lelanie Carrick, Marina van der Meulen, Letitia Niemand, Debbie Taljaard, Sunel Beeselaar en Elroy Jonkers.


Ten spyte van die baie uitdagings wat die pandemie meegebring het, het die Tygerberg-sakekamer ’n aktiewe en suksesvolle jaar gehad.

Só het Sunel Beeselaar, voorsitter van die sakekamer, op die algemene jaarvergadering, wat verlede Woensdagaand by die Jamrock- teater in Brackenfell gehou is, gesê.

Dié sakekamer se ledetal het die afgelope jaar van 54 tot 70 gestyg.

“Soos te verwagte is daar jaarliks ’n paar lede wat hul lidmaatskap opsê. Die afname hierdie jaar was baie kenmerkend die gevolg van die Covid-pandemie en ander ekonomiese faktore. Ons hoop dat hierdie lede weer op ’n latere geleentheid by ons sal aansluit,” het Beeselaar gesê.

Die sakekamer het verlede jaar vergaderings en netwerkgeleenthede op die Zoom-platvorm voortgesit en sal dié jaar na geleenthede en vergaderings in lewende lywe terugkeer. “Die afgelope jaar is minder saamtrekke weens Covid aangebied, maar ons is optimisties dat die pendulum aan die swaai is en dat ons weer in volle gang na die werksaamhede van die Sakekamer sal terugkeer. Dié jaar het ’n goeie vooruitsig met sewe nuwe lede wat vroeg in die jaar aangesluit het. Opkomende gebeurtenisse waarna uitgesien word, sluit in die jaarlikse sake-ete met die Stad Kaapstad en die uiters gewilde TJ’s Lekka Braai-potjiekoskompetisie, wat jaarliks by die Hoërskool Stellenberg gehou word.

“Die potjiekosdag bly ’n hoogtepunt op ons kalender. Dis ’n dag van lekker eet, baie lag, groot pryse en bou van nuwe sakevriende en -kontakte,” het Beeselaar gesê.

Die sakekamer het sy eerste gholfdag in September verlede jaar by die Kuilsrivier-gholfklub gehou.

“Dit was die eerste keer dat ons dit aanpak en dit was uiters suksesvol met baie goeie bywoning. Hierdie is gewis ’n dag wat nie gemis moet word nie en uitstekende waarde aan lede bied vir bemarking, netwerk en blootstelling.”

Beeselaar het gesê die sakekamer wil vanjaar sy ledetal tot 100 laat groei.

“Die potensiaal in ons omgewing is groot. Ons ledetal het mooi gegroei van net in die 20 in 2015 en daarom is ons vol vertroue dat ons teiken van 100 haalbaar is.

“Ons is deel van gespreksgroepe soos die Greater Tygerberg Partnership (GTP) Bellville en sakekamers binne die AHI. Ons streef voortdurend daarna om die waardeproposisie aan ons lede te bly verbeter.”

Phillip van Zijl, ’n bestuurslid, meen die waarde van lidmaatskap van die Tygerberg-sakekamer word onderskat.

“Groot sake word tussen lede van die sakekamer gedoen. Namate ons regerings-, ekonomiese- en misdaaduitdagings groter word, is dié ondersteuning tussen lede van die sakekamer van onskatbare waarde,” het Van Zijl gesê.

Tiaan Hoorn van Huysamen en Westraad ingelyf het op sy beurt gesê die sakekamer het sy onderneming die geleentheid gebied om by die plaaslike sakegemeenskap in te skakel. “Dit bied ’n geleentheid om idees uit te ruil, te netwerk en lekker aktiwiteite saam te geniet.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article