Saartjie Singh, algemene werker by die Bellville-biblioteek, het verlede jaar ná 32 jaar afgetree.


Daar is heelwat boeke in die Bellville-biblioteek wat al minder van dié instelling gesien het as wat Saartjie Singh het.

Sy was in die oggende daar toe die biblioteek oopmaak – klaar met vullis in die hand wat sy op pad soontoe opgetel het.

Soos die dag aangegaan het, het sy skoongemaak, leners bygestaan en ’n klomp ander take voltooi.

Maar soos baie goeie stories ’n einde het, moes dié algemene werker ook einde verlede jaar aftree nadat sy vir 32 jaar daar gewerk het.

Sowat 40 mense het verlede week by die biblioteek byeengekom om van Saartjie afskeid te neem.

Sy was ’n instelling self, beaam Marietjie Bessinger, die senior bibliotekaresse.

“(Sy) het haar pad in almal se hart ingegrawe, en volgens die getuienis van die mense wat haar afskeid bygewoon het, was almal dit eens dat sy jou aangeraak het en deur haar optrede ’n blywende indruk op almal gemaak het.”

Die biblioteek was eintlik ’n interessante plek vir iemand om te werk wat aanvanklik ongeletterd was.

Ongeletterd, miskien, maar verskriklik intelligent, sê haar nou oud-kollega, Paulita Sias.

“Sy het altyd ’n mening oor alles,” sê Bessinger, “en sy weet van alles wat in die wêreld gebeur” – selfs toe sy ongeletterd was.

Singh, ’n enkelma, het geweet van hard werk en het buiten haar gewone werk by die biblioteek ook na ure as huishulp gewerk om haar drie kinders te versorg en die beste moontlike skoolopleiding te gee.

“Hulle is almal vandag suksesvol in wat hulle doen en dit is slegs deur haar toedoen,” sê Bessinger.

Sias sê sy bewonder Singh se deursettingsvermoë.

“Sy het nog altyd gesê sy gaan vir haar ’n huis koop. Noudat sy aftree lyk dit of sy regtig een op die platteland gaan koop.”

Bessinger en Sias sê ’n unieke eienskap van Singh is haar volstrekte weiering om enige Engels te praat. Sy sal met ’n Engels-magtige persoon praat, maar altyd in Afrikaans. Sy het, ten spyte van haar vol werkprogram, altyd vir mense in haar gemeenskap omgegee.

“Ons moes almal help om werk te soek vir iemand, of ons het klere gebring wat uitgedeel is aan mense wat niks het nie; selfs die rondloperhonde in haar buurt kry kos by haar,” sê Bessinger. “Ons mag niks weggooi nie. Saartjie maak alles bymekaar om te herwin; sy maak teesakkies droog vir ’n werkskeppingsprojek, of leë toiletrolle vir skole in die omgewing.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article