SA Water Warriors het op 17 September van Goodwood na Kleinzee tussen Steinkopf en Port Nolloth vertrek om broodnodige skenkings in dié gemeenskap te gaan aflewer.
“Ons het ’n helde-ontvangs gehad, maar dit was ook baie emosioneel. Ons het nog skaars stilgehou toe word ons oorval met drukkies van dankbaarheid,” sê Deon Smit, stigter van SA Water Warriors.
Kleinzee, soos baie ander plattelandse dorpe, word dikwels deur droogte geteister.
Werk waar die nood is
Volgens Smit is die organisasie al amper vier jaar aan die gang en het hulle so kontak met mense, wat hulle normaalweg nie sou ontmoet het nie, opgebou. Dié mense help vasstel waar die nood is en hulle werk daarvolgens.
“Skenkings kom van die publiek en kleinondernemings. Dis meestal geld en dit word dan gebruik om voorraad te koop. Ons kry ook skenkings by Meals On Wheels, Langeberg and Ashton Foods en Montagu Foods,” sê Smit.
“Skenkings word bepaal na aanleiding van die inligting wat ons van ons kontakpersoon ontvang. In sommige gevalle is dit voer, water en kruideniersware en in ander gevalle net kospakkies.”
Smit sê hoewel die nood bykans altyd vir al die bogenoemde is, word hulle soms om finansiële redes verplig om saam met hul kontakpersoon te besluit wat die belangrikste is.
Brand by skool steeds ’n ramp
SA Water Warriors se vorige skenking aan die Noord-Kaap was onder meer aan Garies.
’n Brand het op 17 September by die Hoërskool Garies uitgebreek en 11 klaskamers is verwoes.
Smit sê “dit was nogal ’n skok vir my toe ons net nadat ons verby Garies is, op die radio van die brand hoor. Ek het agterna verneem dat dit nie die skool is waar ons gaan help het nie, maar dis steeds ‘n ramp.”
Die rit van bykans 1 300 km het goed verloop sonder enige teëspoed.





