Ná ’n lang winterslapie seil slange nou oral die langer gras uit op soek na water, veral langs die treinspoor tussen Bellville- en Kraaifontein-treinstasies, waar die gras geil groei.

Verskeie inwoners wat in woonbuurte langs die spoorlyn woon, het in die afgelope weke slange gerapporteer.

Voorvalle is in Morgenster, Proteahoogte en Scottsville aangemeld.

’n Inwoner in Scottsville het drie slange in een week naby sy huis gekry.

Die slange is as molslange, tabakrollertjies en eiervreters geïdentifiseer deur die gesertifiseerde slangvanger, Johny Fisher, van die private sekerheidsmaatskappy Phoenix Flying Squad se honde- en berede- eenheid.

Fisher sê hy het die afgelope twee weke 18 slange in Brackenfell en Bellville gevang, waarvan baie Kaapse kobras, wat uit die gras langs treinspore gekom het.

“Die meeste slange wat ek langs treinspore vang, is die giftige Kaapse kobra. Hulle hou van die hitte wat uit die ysters kom en lê teenaan die ysters in die vroeë oggend en laatmiddag. Hulle kom uit die gras op soek na water.

“’n Slang het ’n baie goeie reuksintuig en ruik water van ver af. Wanneer daar byvoorbeeld in die tuin natgespuit word of die sproeiers aangaan, sal ’n slang dit ruik,” sê hy.

Die Groot Vyf slange in die Wes-Kaap is die Kaapse kobra, pofadder, molslang, rinkhals en boomslang, wat in verskillende habitatte in die provinsie voorkom, sê Fisher.

Hy sê Kaapse kobras hou veral van lang gras en harder oppervlaktes, terwyl molslange weer van sagter grond hou. Die rinkhals hou van grasland, maar kan ook gevind word in moerasland. Die pofadder hou van rotsagtige grasvelde.

Brenda Hansen, wykraadslid in Kraaifontein, sê die Stad Kaapstad verwag dat die kwessies rondom die grassny-tenders vandeesweek opgelos sal word sodat kontrakteurs kan begin gras sny op openbare grond.

Die gebiede langs die spoorlyne bly egter die verantwoordelikheid van Metrorail en Transnet.

Op ’n medianavraag het Phillip Mxolisi Zondo, streekhoof van Transnet se eiendomsdepartement, gesê hy het dit met die relevante afdeling bespreek. “Die departement sal nou ’n plan van aksie in werking moet stel,” het hy Vrydag gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article